Kortgeknipte Volkies Netbaltoernooi lewer steeds goeie aksie
Die alombekende Volkies Netbaltoernooi het die afgelope naweek vanaf 13-14 Julie plaasgevind, maar dié toernooi kon nie volledig klaargespeel word nie, aangesien reën op die Saterdag die laaste sê gehad het. Nietemin het 24 top netbalskole mekaar die stryd op die Vrydag in kookwater netbalaksie aangesê met Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria wat die meeste uitgeblink …
Die alombekende Volkies Netbaltoernooi het die afgelope naweek vanaf 13-14 Julie plaasgevind, maar dié toernooi kon nie volledig klaargespeel word nie, aangesien reën op die Saterdag die laaste sê gehad het.
Nietemin het 24 top netbalskole mekaar die stryd op die Vrydag in kookwater netbalaksie aangesê met Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria wat die meeste uitgeblink het met top posisies in die o.14, o.15, o.16 en o.19 afdelings. Potchefstroom Gimnasium se blink o.15A-span, onder leiding van die NWU netbalspeler, Marike Maree het die eerste plek saam met Affies gedeel na ‘n paar goeie vertonings.
Die formaat van die toernooi het ook vir opwinding gesorg met elke ouderdomsgroep wat in vier groepe (A-D) ingedeel was.
Die top skole uit elke groep sou dan oorkruis speel teen mekaar om te bepaal watter posisies elke skool sou inneem. Ongelukkig het die weer wel die aksie kortgeknip.
Volkies se organiseerder van die toernooi, Nicolette Steyn, glo wel dat dié toernooi steeds baie suksesvol was. “Daar is baie goeie netbal gespeel en die gees en opwinding was ook deurgaans groot.
“Die organiseerders van die deelnemende skole het bymekaar gekom en besluit dat die wedstryde eerder afgelas word weens die nat bane.
“Beserings kan maklik gebeur en dit is nie iets wat ons wil veroorsaak met net ‘n week voor die SA Skole Netbalkampioenskappe nie,” het sy genoem.
Die SA Skole kampioenskappe vind vanaf 20-21 Julie by Hoërskool EG Jansen in Boksburg plaas met die top skolespanne in die land wat kragte gaan meet. Hoër Volkskool Potchefstroom se o.14A en o.17A-spanne gaan hier deelneem, terwyl Potchefstroom Gimnasium se o.15A en o.19A-span en Potchefstroom Girls High ook Potchefstroom se vlag sal wapper.
* Lees meer hieroor in volgende week (26 Julie) se Potchefstroom Herald.

























