Ferdies se o.15 rugbyspan gereed om weer geskiedenis in Virsekerbeker te maak
Daar was ‘n vlaag van opgewondenheid die afgelope Maandag op Hoërskool Ferdinand Postma se rugbyvelde toe hulle o.15-rugbyspan die eerste keer in die geskiedenis met ’n 17-0 oorwinning teen Koster hulle plek in die eindstryd van die Virsekerbeker bespreek het. In hulle blou rugbytruie het Ferdies se o.15 rugbyspan die skool se naam met trots …

Daar was ‘n vlaag van opgewondenheid die afgelope Maandag op Hoërskool Ferdinand Postma se rugbyvelde toe hulle o.15-rugbyspan die eerste keer in die geskiedenis met ’n 17-0 oorwinning teen Koster hulle plek in die eindstryd van die Virsekerbeker bespreek het.
In hulle blou rugbytruie het Ferdies se o.15 rugbyspan die skool se naam met trots gedra in hierdie klipharde Virsekerbeker Afdeling 4 halfeindstryd teen die jong manne van Koster. Met hierdie sege gaan Ferdies nou komende Saterdag, 18 Augustus teen Edenvale in die eindstryd op die LC de Villiers- stadion in Pretoria te staan kom.
Ferdies het drie driëe gedruk, twee in die eerste helfte en ‘n derde een net voor die eindfluitjie, om die kersie op die koek te sit.
Die haker, Nonofo Ramadie, heelagter, Resego Matsemela en losskakel, Reinier van Rooyen het Ferdies se drieë gedruk en dit was ook heel toepaslik aangesien hierdie drie spelers self puik wedstryde gehad het.
Ramadie was ’n kolos in die losgemaal en het keer op keer deur Koster se verdediging gebeur. Matsemela het die telbord vir Ferdies met ‘n spoggerige individuele drie oopgemaak nadat hy spasie langs die kantlyn gekry het. Dié heelagter het toe ook sy eie drie verdoel om die tuisspan met 7-0 te laat voorloop.
Koster kon wel nie onderskat word nie en hulle blitsige binnesenter, Franco Roux het ‘n paar keer Ferdies op hol gehad. Cobus Venter (agtsteman) en Leniel Swart (oopkantflank) het wel enige kanse wat Koster gehad het goed toegesmeer met puik verdediging en konstante werksverrigting in die losgemaal. Ferdies se beste aanvallende spel het in die laaste minuut plaasgevind toe Van Rooyen na ’n rits aangeë in die hoekie oor is.
Hierdie losskakel se skopwerk uit die hand uit was ook voortreflik en hy het telkemale die sterk wind goed tot sy span se voordeel gebruik.
Ferdies se o.15-afrigter, Jacques Geldenhuys, was natuurlik in die wolke na die oorwinning, maar weet dat daar komende naweek harde werk voorlê.
“Dit was die derde keer vanjaar wat ons span teen Koster gespeel het en ons het nou al daardie wedstryde gewen. Koster is altyd ‘n harde span om teen te speel, so ek is bly oor die oorwinning. Dit is die eerste keer wat ons in die eindstryd speel en ons is baie opgewonde om verder geskiedenis te maak.
Edenvale is ‘n sterk span, maar ek glo ons het wat dit vat. Vanjaar vat ons elke wedstryd soos dit kom en soos ‘n olifant eet ons dit stukkie vir stukkie,” noem Geldenhuys.
Foto’s: Wouter Pienaar

























