SportSport

De Kock los die leisels as Luiperds HUB

Daar is ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan, en vir die Luiperds se hoof uitvoerende beampte, Andries de Kock, het daardie tyd, met sy amptelike bedanking, aangebreek. De Kock was een van die groot hande agter die Luiperds se doeltreffende finansiële bestuur die afgelope drie jaar, waar hy sy kennis …

Daar is ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan, en vir die Luiperds se hoof uitvoerende beampte, Andries de Kock, het daardie tyd, met sy amptelike bedanking, aangebreek.

De Kock was een van die groot hande agter die Luiperds se doeltreffende finansiële bestuur die afgelope drie jaar, waar hy sy kennis tydens moeilike omstandighede toegepas het te midde van gebrekkige ondersteuning vanaf die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU.)

De Kock se rede vir sy bedanking is persoonlik van aard met dié dat hy na Hartenbos verhuis waar hy en sy vrou, Helene, nader aan hulle kinders en kleinkinders sal wees.

“Die pendel tussen my huis in Rustenburg en Potchefstroom was nog altyd ‘n faktor en met die idee dat ek reeds my familie in Hartenbos het, het ek en my vrou besluit om ons beplande verhuising te verhaas,” verduidelik hy.

De Kock het sy termyn as HUB by die Luiperds op 1 September 2015 begin met die hoofdoel om in ‘n tydperk van ses maande weer die boeke by die unie te laat klop. Sy kontrak is wel egter na nog drie jaar verleng, maar op hierdie stadium het De Kock besluit dat dit tyd is om dié hoofstuk te sluit.

“Een van die laagtepunte vir my was die gebrek aan samewerking en politiek wat in SA Rugby heers. ‘n Mens is betrokke in rugby juis omdat dit ‘n spansport is, maar ek het glad nie vertroue in die administrasie bevind nie. Ek het grootgeword met die waarheid en die gebrek aan samewerking van SARU in totaliteit was teleurstellend,” het De Kock genoem.

Volgens De Kock is Suid-Afrikaanse Rugby juis in die moeilikheid omdat daar ‘n gebrek in verstandhouding tussen die plattelandse en stedelike unies is.

“Ons verstaan nie mekaar se uitdagings nie. Dit is een van die groot probleme.” SA Rugby saam met die kleiner unies sal aan uitsaairegte vir rugby moet werk. Een van die groot probleme lê in die bemarking van kleiner unies,” sê De Kock.

“Die hoogtepunt vir my was die betrokkenheid by provinsiale rugby in sy totaliteit en dit het ek baie geniet. Die samewerking met die Puk die afgelope jare was ook van kardinale belang en my verhouding met Mervyn Taylor van die NWU Rugbyinstituut is uitstekend,” noem De Kock.

De Kock gaan wel vir die volgende drie maande steeds as konsultant optree om die nuwe waarnemende HUB, Eugene Fourie, wat tans die huidige bestuurder van amateurrugby by die Luiperds is, by te staan. Dit is veral die skakeling met SAREO (die South African Rugby Employers Organisation) waar Andries kardinaal van belang sal wees, spesifiek as gevolg van die belangrike rol wat hy die afgelope drie jaar op ‘n nasionale vlak by hierdie organisasie gespeel het.

“Dit is met groot jammerte wat die Luiperds kennis geneem het van Andries se bedanking en maak almal by die Luiperds en ek persoonlik graag van hierdie geleentheid gebruik om hom te bedank vir sy enorme bydrae wat hy tot Luiperds Rugby gelewer het,” het André May, Luiperds Rugbyunie president in ‘n persverklaring genoem.

https://www.nbcarsales.co.za/
https://www.nbcarsales.co.za/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button