NWU en Maties sal in ‘n titaniese netbalgeveg Sondag wees
Die NWU het vanjaar die puntesluise behoorlik oopgedraai in die 2018 Varsity Netbaltoernooi met 345 punte wat hulle tot dusver ingesamel het om na vier onoorwonne wedstryde, tweede op die punteleer te lê. Die NWU is tans op 20 punte saam met Kovsies, met die Bloemfonteiners wat die boonste posisie met ’n groter doelverskil beklee. …
Die NWU het vanjaar die puntesluise behoorlik oopgedraai in die 2018 Varsity Netbaltoernooi met 345 punte wat hulle tot dusver ingesamel het om na vier onoorwonne wedstryde, tweede op die punteleer te lê.
Die NWU is tans op 20 punte saam met Kovsies, met die Bloemfonteiners wat die boonste posisie met ’n groter doelverskil beklee.
Die NWU speel vanjaar aanvallende netbal en is vol selfvertroue na oorwinnings teen UJ (77-27), Tuks (81-73), UWK (93-61) en VUT (94-30).
Sondag, 9 September sal die Potchefstromers hulle grootste toets beleef teen Maties in Stellenbosch.
Nie net het Maties tuisvoordeel nie, maar die NWU sal ook sonder hulle drie Proteaspelers, Romé Dreyer, Sigi Burger en Monique Reyneke wees wat in Australië en Nieu-Seeland speel.
“My span het goed gespeel teen VUT en almal het ‘n kans gekry op die baan. Ons het teen VUT ook baie van ons wedstrydscenarios getoets en gefokus om as ‘n span te verdedig en nie individualisties te speel nie. Die wedstryd teen Maties gaan nie maklik wees nie, maar ek glo ons is gereed. Dit gaan belangrik wees om konstant te wees en die bal vir ons die werk te laat doen. Bygesê sal geduld ook ‘n faktor wees,” noem Du Plessis.
Nog iets wat vanjaar in die NWU se guns tel, is die manier hoe hulle die Powerplay tot hulle voordeel gebruik het om meer punte in te samel en hulle doele in die twee minuut-periode te verdubbel.
Dit is hier waar die skerpskut-vermoëns van Jessica du Plessis en Claudia van den Berg veral belangrik gaan wees, met die dat Burger nie in die span is nie. Verwag ook dat Leonie Maree ‘n belangrike rol op verdediging gaan speel.
Maties se Charmaine Baard, Stephanie Brandt en die ervare Sasha-Lee Petersen sal van die aanspraakmakers vir die tuisspan wees en as die NWU hulle gaan stil hou, kan dit ‘n vyfde oorwinning in ‘n ry beteken.
* Die wedstryd begin om 17:30 en sal regstreeks op Supersport 10 gesien kan word.










