NWU maak dit twee uit twee met puik boulwerk op USSA-week
Die NWU krieketspan het hulle USSA-week op ‘n wennoot begin toe hulle die Universiteit van Kaapstad (UCT) met 38 lopies in die eerste wedstryd van vanjaar se USSA-krieketkampioenskappe op Dinsdag 4 Desember geklop het. Hierdie toernooi wat vanaf 3-7 Desember in Stellenbosch plaasvind, gaan van die land se top universiteitskrieketspanne teen mekaar te staan sien …

Die NWU krieketspan het hulle USSA-week op ‘n wennoot begin toe hulle die Universiteit van Kaapstad (UCT) met 38 lopies in die eerste wedstryd van vanjaar se USSA-krieketkampioenskappe op Dinsdag 4 Desember geklop het.
Hierdie toernooi wat vanaf 3-7 Desember in Stellenbosch plaasvind, gaan van die land se top universiteitskrieketspanne teen mekaar te staan sien kom.
Die NWU se eerste wedstryd van die toernooi teen die Universiteit van Wes-Kaapland is weens reën afgelas.
In die NWU se bogenoemde oorwinning teen die Universiteit van Kaapstad het die boulers aan albei kante op ‘n moeilike kolfblad amok gemaak. NWU kolf eerste en maak ‘n skrapse 141 met Edrich Lubbe se 42 (82) en Ruan Haasbroek se 24 (35) wat die meeste lopies in die beurt bydra.
Die universiteit van Kaapstad se Brandon Tattum was een van sterre vir die Kapenaars met sy swaaiboulwerk gewees.
Die NWU se boulers het wel ‘n briljante dag beleef en hulle teenstanders vir slegs 103 uitgeboul. Jon Hinrichsen (3/22) en Ruan Haasbroek met 3/10 in 10 boulbeurte was die sterre vir die Potchefstroomse studente.
Volgens NWU afrigter, Niel Bredenkamp, het sy span se intensiteit in die veld hom die meeste beïndruk.
“Ons het nie die beste kolfvertoning ingesit nie, maar UCT het ook baie goed geboul. Wat vir my in die wen uitgestaan het was die veggees wat in die veld getoon is, ons veldwerk was regtig op ’n hoë standaard,” het Bredenkamp genoem.
Die NWU het gister teen die Madibaz in poel B gespeel en teen druktyd was die uitslag nog nie beskikbaar nie.






