Moenie Saterdag se Interhoër misloop nie
Die provinsie se top atlete gaan weer komende Saterdag (9 Februarie) by die Noordwes Grootskole Interhoër op die Kenneth McArthur Atletiekstadion sake uitspook. Daar word baie spanning en ‘n paar rillers in die verskillende items verwag met die kompetisie wat straf gaan wees tussen die skole. Hoërskool Klerksdorp (KHS) bied vanjaar die byeenkoms aan met …
Die provinsie se top atlete gaan weer komende Saterdag (9 Februarie) by die Noordwes Grootskole Interhoër op die Kenneth McArthur Atletiekstadion sake uitspook.
Daar word baie spanning en ‘n paar rillers in die verskillende items verwag met die kompetisie wat straf gaan wees tussen die skole.
Hoërskool Klerksdorp (KHS) bied vanjaar die byeenkoms aan met Potchefstroom Gimnasium, Hoër Volkskool Potchefstroom, Potchefstroom Girls High, Potchefstroom Boys High Hoërskool Wesvalia, Hoërskool Lichtenburg en Hoërskool Rustenburg wat teen mekaar gaan kompeteer.
Potchefstroom Gimnasium is vanjaar weer die gunstelinge om die titel te vat nadat hulle die afgelope dekade atletiek in die stad gedomineer het.
Vanjaar het Gimmies ‘n klomp skitterende atlete soos Wiané Joubert (dogters o.16-spiesgooi), Karmen Fouché (dogters o.16-spiesgooi) en Phemelo Molale (seuns o.15 100m) wat ‘n paar rekords sal wil breek.
Armand Willemse (seuns o.14 spiesgooi) en Danielle Verster (dogters o.16 middelafstande) is ook nog Gimmie-atlete om ‘n oog oor te hou.
Volkskool kan ook nie onderskat word nie met Cara du Preez (dogters o.19 1500m) wat ook een van die skool se bekende talente is. Gerrit Muntingh (seuns o.16) sal ook ‘n langasem van Volkies wees om dop te hou. JJ Alberts (o.19), John van Wyk (o.15) en die blitsvinnige Mardi Swart (o.15) is nog Volkies wat medaljes komende Saterdag kan inpalm.
Die optog begin reeds om 07:00 met die eerste atletiekaksie wat om 08:00 sal afskop. Die altyd opwindende 100m finale sal om 15:30 begin, met die aflosse kort daarna om 16:15.




