Die vere gaan waai tussen Tukkies en NWU in titaniese Varsitybekerstryd
In ‘n nat en modderige affêre, Maandagaand (11 Maart) het die NWU met 32-17 in ‘n bonuspunt sege met Ikeys afgereken. Dié Varsitybeker-oorwinning help dat die NWU binne bereik van Maties en Tukkies bly. Komende Maandagaand (18 Maart) is nou juis ‘n stryd om die tweede plek wanneer die NWU teen Tukkies op die Fanie …
In ‘n nat en modderige affêre, Maandagaand (11 Maart) het die NWU met 32-17 in ‘n bonuspunt sege met Ikeys afgereken.
Dié Varsitybeker-oorwinning help dat die NWU binne bereik van Maties en Tukkies bly.
Komende Maandagaand (18 Maart) is nou juis ‘n stryd om die tweede plek wanneer die NWU teen Tukkies op die Fanie du Toit Sportgronde kragte meet. Dit beloof om ‘n opwindende wedstryd te wees met albei spanne wat beide voorlangs en agter genoeg skietgoed het om hulle teenstanders druipstert van die veld te laat draf.
Tukkies is tans ses punte bo die NWU op die punteleer, maar het een wedstryd meer as die Potchefstromers gespeel. Nollis Marais se Tukkies-span sluit ‘n paar gevaarmanne in met slotte, Ruan Nortje en Marius Verwey (kaptein) wat probleme kan veroorsaak. Die agtsteman, Denzel Hill se tweestryd met NWU se Wian Conradie kan ook een van hoogtepunte wees. Verder sal die Tukkies se gesoute losskakel, Tinus de Beer en die NWU se losskakel-generaal, Schalk Hugo ook in ‘n belangrike stryd betrokke wees.

Jonathan Mokuena se agttal het die laaste paar wedstryde bewys dat hulle goed op dreef is. Nuwelinge soos Reuben du Plooy en Edmund Rheeder het teen Ikeys uitgeblink, terwyl slotte, Johan Retief en Danny du Plooy ook woelig was. Volgens NWU kaptein, Chucky van der Westhuizen, is sy span gereed vir Maandag se taai Tukkies toets.
“Ek is tevrede met waar ons lynstane en rolmaalbewegings is. Ons sal wel moet werk om balbesit te behou en ons dissipline te verbeter, want dit is wat die ander spanne nog in die wedstryd hou.”
Die wedstryd teen Tukkies begin 19:00.



