Die NWU het hulle kouse opgetrek en CUT-Ixias die afgelope Maandagaand, 25 Maart in Bloemfontein op hulle knieë gehad met ‘n triomfantlike 60-7 sege.
Hierdie oorwinning was broodnodig nadat die NWU na hulle 28-0 Tukkies-nederlaag uitgehonger was vir goeie spel.
Met ‘n paar puik drieë van die vleuel, Pienaar van Niekerk en ‘n sterk speler van die wedstryd-vertoning van agtsteman, Edmund Rheeder, was die NWU net te goed vir die manne van die Rosestad.
Schalk Hugo het ook oudergewoonte met sy skopskoen uitgeblink om al agt drieë te verdoel.
Die NWU het met hierdie oorwinning hulle plek in die halfeindrondte bespreek en sal nou teen Tukkies in die halfeindstryd in Pretoria te staan kom. Die NWU sal wel momentum wil bou teen Wits in hulle finale tuiswedstryd op die Fanie du Toit Sportgronde komende Maandagaand (1 April).
Wits is tans saam met Shimlas, CUT en die Ikeys in ‘n stryd vir die laaste halfeindstrydplek gewikkel en sal moet wen om ‘n kans te staan. Dit sal Wits ‘n gevaarlike teenstander maak, aangesien hulle niks sal hê om te verloor nie.
Wits se gladdebek kaptein, Constant Beckerling, sal met sy spel op die veld ‘n impak wil maak terwyl manne soos losskakel Chris Humphries en die senter, AJ van Blerk ook gevaar vir die NWU inhou. Die voormalige NWU stut, Bheki Shongwe, kan ook voorlangs sy stem teen sy vorige universiteit dik maak.
Die wedstryd tussen die NWU en Wits skop om 19:00 af.



