Die Potchefstroom Swemklub se jong en opkomende swemtalent het tydens die Noordwes Vlak 1-swemkampioenskappe wat tydens die naweek van 16 en 17 Maart in Phokeng gehou is, met blitsvinnige jong swemmers gespog.
Hierdie swemmers het ’n medalje-oes van 33 medaljes (waarvan 15 goud, 8 silwer en 10 brons) verower. Die afrigter, Marike van Oort, het aangedui dat elke individuele swemmer skitterende prestasies behaal het.
Scarlett Botes het met agt goue medaljes om haar nek weggestap en Deoné Borstlap spog met vyf silwer medaljes en drie brons medaljes.
Johan Mostert het ’n hele string medaljes verower: twee goue, twee silwer en vier brons.
Nog ’n trotse medalje-wenner is Marno van der Merwe wat vyf goue medaljes en twee silwer medaljes ontvang het.
Phoenix Botes spog met die brons medalje vir agtjarige seuns se 50m-vlinderslag en Hanno Mostert stap weg met een silwer en twee brons medaljes. Renate van der Merwe swem pragtig en verower ’n silwer medalje in die 50m-borsslag.




