SportSport

Potch skole buig die knie in NWU Prestigereeks

‘n Mens sou dink dat die tuisvoordeel albei plaaslike skole sou bevoordeel, maar ‘n rits beserings, taktiese foute en betwisbare skeidsregtersbesluite het veroorsaak dat nie een skool se rugby en netbal eerstespanne in die halfeindstryde (1-4) gaan speel nie

Dit was ‘n sportnaweek om te vergeet vir Gimmies en Volkies se eerste netbal en rugbyspanne in die kwarteindrondtes van die NWU Prestigereeks wat Gimmies aangebied het.
‘n Mens sou dink dat die tuisvoordeel albei plaaslike skole sou bevoordeel, maar ‘n rits beserings, taktiese foute en betwisbare skeidsregtersbesluite het veroorsaak dat nie een skool se eerstespan in die halfeindstryde (1-4) gaan speel nie. Hulle sal nou vir plekke 5-8 moet meeding.

Foto’s: Wouter Pienaar

Die eerste rugbyspanne het albei die loef afgesteek in hulle kwarteindwedstryde op die Mooivallei Sportgronde. Gimmies het 29-28 teen Hoërskool Noordheuwel verloor, te midde van ‘n uitstekende begin wat drieë van Liardt Redelinghuys en Keegan Twigg ingesluit het. Die tweede helfte was ‘n nagmerrie vir Gimmies wat weens ‘n paar kantlynbesluite en swak besluitneming, verloor het. Volkies se eerste span verloor 33-22 teen ‘n begeesterde Hoërskool Jeugland-span. Volkies kaptein, Danie Schonfeldt en kie kon nie die manne van Kempton Park keer nie.

Foto’s: Wouter Pienaar

Gimmies se o.15A-span het wel met ‘n 45-12 oorwinning teen HTS Witbank hulle staal bewys. Gimmies se tweede span beleef ook ‘n groot 50-7 sege teen Oosterlig. Te midde van groot kompetisie is daar ook geen Volkies A-rugbyspan wat na die volgende rondte deurdring en kans vir ‘n medalje sal hê nie.

Op Gimmies se netbalbane kon ‘n mens nie uitpluis of die bloedige son of spanning die afrigters en ondersteuners se gesigte rooi gelos het nie. Dit veral nadat Gimmies se eerste netbalspan met 37-28 teen Noordheuwel die knie gebuig het en Volkies se eerstes naelskraap met 28-30 verslaan is. Volkies se o.17A netbalspan behaal ‘n welverdiende 33-5 oorwinning teen Die Anker, terwyl Gimmies se briljante o.16A-span gemaklik vir Volkies met 38-16 in ‘n Classic Clash lusmakertjie troef.

Op die hokkiearena lyk sake rooskleurig met Gimmies (teen HTS Witbank) en Volkies (teen Die Anker) se dogters eerste hokkiespanne wat albei 1-0 oorwinnings behaal om na die halfeindrondtes deur te dring.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button