
Vir ‘n vierde jaar in ‘n ry het die NWU se Patria Manskoshuis teen Kovsies se Vishuis Manskoshuis in die eindstryd van die Varsitybeker Koshuisfinaal gespeel en dié trofee uiteindelik met ‘n 16-8 sege deurgetrek.
Foto’s: Kevin Sawyer: ASEM Engage
Dit was amper nou of nooit vir Patria wat heel moontlik verskriklik hard aan ‘n vierde nederlaag in ‘n ry teen se Vishuis sou moes sluk.
Gelukkig vir die manne in donkerblou kon hulle sjampanje sluk wat stroopsoet in die keel afgevloei het.
Jare se eindstrydhartseer is begrawe en nou kan Patria weer hulle kop omhoog hou.
Dit was danksy ‘n blitsige begin met slot, Coenie Kruger, wat soos ‘n stoomtrein deur Vishuis gemaal het om die eerste drie te druk.
Danco Burger verdoel en klits ‘n strafskop oor om dit 10-0 te maak. Vishuis se Chappo Pieterse vernou die telling na 10-5 met sy drie, maar Patria se Burger maak seker van die oorwinning met sy sekure skopskoen.











