
Nog min was die term “impakspeler” so goed beskryf toe Gimmies se plaasvervanger losskakel, Billy Jacobs, met twee drieë en vier doelskoppe, vir Gimmies na ‘n 33-21 oorwinning teen Volkies gelei het.
Hierdie wedstryd wat vanmiddag (25 Mei) op Hoër Volkskool Potchefstroom se velde plaasgevind het, was ‘n puik illustrasie van hoe een span hulle kanse gegryp het en hulle teenstanders se foute uitgebuit het.
Foto’s: Wouter Pienaar
Gimmies het vyf drieë gedruk, een net voor en net na halftyd wat Volkies laat sneuwel het. Die senter, Keenan Twigg, het eerste gaan druk, na ‘n skitterende breek van Jacobs. Kort daarna het Janu Brand gaan vuur maak onder die Volkies met nog ‘n drie, terwyl Jacobs self oorduik om die telling 19-9 teen halftyd te maak. Vroeër het Volkies se losskakel, Stephan van Niekerk drie strafdoele oorgeklits.
Na halftyd het Gimmies se spoedige vleuel, Wilmar du Toit, ‘n gaping gesien en is oor vir die drie van die wedstryd. Javobs verdoel en skielik is Gimmies 26-9 voor. Volkies se koppe het wel nie gaan sak nie en stut Adriaan Taute is na ‘n kraglopie oor. Jacobs het wel die laaste sê vir Gimmies met nog ‘n drie na hy ‘n puik skoppie afgerond het. Hy verdoel sy eie drie om die telling 33-14 te maak. Volkies se slot, Marko Olivier duik oor in die laaste 10 minute maar toe is die koëel alreeds deur die kerk.
Hierdie keer is die Classic Clash Gimmies s’n – hulle het al die eerstespanwedstryde gewen en kan nou met reg koning kraai.
Lees meer in komende week (30 Mei) se Potchefstroom Herald


























