
Bergfietsry is aan die kook by Hoër Volkskool Potchefstroom, waar nuwe grond letterlik en figuurlik bereik word. Daar is vir jare reeds groot belangstelling in bergfietsry by die skool en nou is dit vir leerders moontlik om by die skool te oefen met ‘n baan wat tans op die skoolterrein gebou word.
Elke jaar neem Volkies se bergfietsryers aan die Spur-bergfietsreeks deel en vertoon goed in die kompetisie. Vanjaar is daar ongeveer 15 leerders wat elke dag oefen en vir die resies gereed maak – sodoende is ‘n baan ‘n uitstekende belegging.
Die baan gaan ongeveer 6km lank wees. Ouers en fietsryers het van die begin van die jaar omtrent elke Saterdag van hul tyd afgeknyp om die baan te bou.
Foto’s: Verskaf
Een van hierdie ouers is Wynand Fourie wie se dogter, Ansuné, tans een van die top jong bergfietsryers in Potch is.
“Ongeveer ses jaar gelede het ek, Sidney Fuller en Frans van der Berg met ‘n baan by Volkies begin. Nou het ek weer begin betrokke raak en ons is by Volkies omtrent 90% klaar met die baan. Die baan is reeds 4.5km lank en ons wil dit 6km lank bou sodat dit op UCI (Union Cycliste Internationale)-standaarde is,” noem Fourie.
Volgens Fourie is ‘n ander aspek ook die blootstelling wat bergfietsry met hierdie baan kry.
“Ons wil graag die laerskole ook aan fietsry blootstel om die sport te bevorder. Verder is veiligheid vir ons ook baie belangrik. Fietsryers moet ‘n veilige plek hê om te oefen,” beklemtoon hy.
Volkies wil graag ook die publiek se aandag daarop vestig dat hulle eersdaags hul eie kompetisie gaan aanbied.
Dit sal heel moontlik na afloop van die Spur-bergfietsreeks plaasvind.






