Beide Volkies en Gimmies se o.15A-spanne het hulle onoorwonne rekord in vanjaar se o.15A NW Superliga met twee uiteenlopende vertonings behou.
Volkies het ‘n gemaklike 9 paaltjie oorwinning teen die Klerksdorpers van KHS behaal, terwyl Gimmies moes spartel om ‘n 2 paaltjie oorwinning teen Hoërskool Lichtenburg te kry.

In Volkies se wedstryd was die draaiers baas met Corné Prinsloo (4/39) en Corné Nel (2/35) wat KHS se kolwers laat kopkrap het. KHS kon slegs 204 almal uit in 45 beurte aanteken.
Volkies behaal die teiken met gemak in 28.2 beurte met slegs een kolwer wat kleedkamer toe is. Ludwich Schuld slaan 68* (79), Prinsloo 54 van 38 balle en Nel ‘n bestendige 50 (58). Sodoende het elke kolwer vyftigtalle aangeteken om Volkies se oorwinning op tuisveld te verseker.
Gimmies het, in ‘n wedstryd wat die boulers aan albei kante gedomineer het, daarin geslaag om net-net die teiken van 141 lopies te behaal.
Benjamin Viljoen se 50 (72) was die anker vir sy span. Damian Charslund (2/14) en Armand Willemse (2/24) was Gimmies se top boulers.

Komende naweek (Saterdag, 31 Augustus) speel Gimmies en Volkies se o.15A–spanne teen mekaar in ‘n liplekker derby wat om 09:00 begin. Lees meer in volgende week se Potchefstroom Herald oor hierdie wedstryde.



