Laerskool Mooirivier se o.13A- en o.11A krieketspanne het dubbele sukses vir die skool behaal toe hulle albei die Noordwestitel vir grootskole ingepalm het.
Vir Mooirivier se o.13A’s was Jacques Schutte die groot held met ‘n verstommende beurt van 113 van 63 balle om ‘n 128-lopie oorwinning teen Laerskool Baillie Park in ‘n Potch-finaal te behaal. Dit was ‘n vertoning wat dié span onder die afrigting van Jackie Golden, nie sommer sal vergeet nie.

Mooirivier teken 232/6 in hulle 30 beurte aan, terwyl Baillie Park se kolwers net die mas kon opkom nie en slegs 104/8 in 30 beurte maak. Mooirivier se Evan Seddon behaal 2/15 in 6 boulbeurte en Lhuan-dre Pretorius 1/12 in 5 beurte. Die is ook die derde keer in ‘n ry wat Tokkies se o.13A-span hierdie titel verower.
Tokkies se o.11A-span verseker ook ‘n gemaklike 9 paaltjie oorwinning teen Laerskool Rustenburg nadat hulle boulers vir Rusties ore aansit. In 18.4 boulbeurte word Rustenburg vir slegs 43 lopies uitgeboul. Mooirivier se kaptein, Vihan Pretorius neem 3/8 in 5.4 boubeurte en Benjamin van Wyk 3/15 in 6 boulbeurte. Pretorius (19*) neem ook die leisels met die kolf en saam met Righardt Joubert (18) word die wenlopies sonder skroom, aangeteken.




