Al die redes hoekom die Varsitybeker so senutergende, opwindende en aksie-belaaide skouspel is, is in die eerste stryd van vanjaar se Varsitybeker tussen Tukkies en die NWU in Pretoria, uitgebeeld.
Tukkies het met Theo Boshoff se strafskop in verstreke tyd vanmiddag (3 Februarie) vir die NWU met 42-40 geklop. Tukkies se bebaarde kaalkop haker, Werner Fourie het ‘n driekuns behaal in ‘n driefees op die LC de Villiers-stadion.
Toe die NWU se regtervleuel, Eugene Hare in die hoekie in die 76ste minuut oor is het besoekers gedink dat hulle die wedstryd uit Tukkies se hande weggeraap het met die telling op 40-39. Tukkies het wel die laaste sê gehad met Theo Boshoff wat sy vaardighede op losskakel bewys het.
Eers na 15 minute van die tuispan se oorweldigende aanvalle kon die NWU uiteindelik asemskep en die tuisspan behoorlik laat werk na Tukkies ‘n 6-0 voorsprong behaal het.
‘n Vinnige tikskoppie het toe daartoe gelei dat kaptein Edmund Rheeder eerste druk vir die NWU. Die televisieskeidsregter moes we leers bevestig. Maartin Holtzhausen verdoel en die NWU loop voor met 7-6.
Slegs 5 minute daarna het die NWU se “Big Show” buitesenter, Evardi Boshoff sy eerste drie in vanjaar se kompetisie met ‘n puik onderskepoging gaan druk. Holtzhausen verdoel en skielik is die NWU in beheer 14-6.
Tukkies het nie gaan lê nie en in die 23ste minuut is Boshoff oor om sy persoonlike telling na 13 punte te neem. Boshoff het sodoende sommer al vroeg elke moontlike manier gekry om punte aan te teken.
Albei spanne het wel ongedwonge senuweagtige foute in die eerste helfte gemaak, wat momentum bietjie gekniehalter het.
Na ‘n puik breekslag van Rheeder het die NWU se vurige haker, Gustav du Rand, sy eerste en span se derde drie aangeteken om die telling na 21-13 te neem.
Tukkies se bebaarde haker, Werner Fourie, het toe sy eie lopie vir Tukkies weer laat voorloop met ‘n 7-punt drie om die telling na 22-21 te bring.
Die NWU het wel die laaste sê in ‘n fantastiese eerste helfte gehad toe Holtzhausen na vinnige hande van heelagter, Heinrich Botha, sy span se vierde drie gaan druk het. Holtzhausen kon nie sy eerste drie verdoel nie, maar die NWU kon glimlag want hul was 26-22 voor teen halftyd.
Die tweede helfte het ook net so wild en wakker begin toe Sango Xamlashe gedink het dat hy vir Tukkies gaan druk het. Eintlik het hy die bal aangeslaan, en geen drie is toegeken na die tv-skeidsregter met ‘n valkoog dopgehou het. Tukkies het wel kort daarna nie weer dieselfde fout gemaak nie met Fourie wat sy tweede drie druk om Tukkies weer te laat voorloop.
Tukkies het die druk volgehou en na ‘n berekeningsfout van die NWU op hulle eie doellyn het Fourie ‘n driekuns van drieë behaal.
Met slegs 20 minute oor was dit nou tyd vir die NWU om hulself reg te ruk en weer in hierdie wip-wa stryd hul stempel af te druk.
Hanteringsfoute en goeie verdediging van Tukkies het wel die NWU se kanse tyd en wyl versmoor. ‘n opportunistiese drie van die NWU skrumskakel, Riaan Genis, het weer die NWU se kanse vergroot en die telling na 36-31 gebring. ‘n Boshoff strafskop het die telling weer vergroot en sy laaste skop het die wedstryd vir Tukkies beklink. Altesaam het Tukkies vier drieë gedruk en die NWU ses, in ‘n wedstryd wat enige kant toe kon gaan.
As hierdie die maatstaf van Varsitybekerrugby is kan ondersteuners gerus hulle lippe begin lek.
Punte:
Tukkies: 42 (22)
Drieë: Theo Boshoff, Werner Fourie (3)
Doelskoppe: Theo Boshoff (4)
Strafskoppe: Theo Boshoff (3)
Skepskoppe: Theo Boshoff
NWU: 40 (26)
Drieë: Edmund Rheeder, Evardi Boshoff, Gustav du Rand, Maartin Holtzhausen, Riaan Genis, Eugene Hare
Doelskoppe: Maartin Holtzhausen (4)
Strafskoppe: Maartin Holtzhausen



