Dit was weer ‘n Déja Vu-oomblik vir die NWU se Varsitybekerspan gisteraand (Maandag, 24 Februarie) toe hulle vir die tweede keer vanjaar toegelaat het dat die skopskoen van ‘n teenstander hul na ‘n nederlaag stuur.
Vroeër die seisoen was dit die skopvoet van Tukkies se Theo Boshoff in week 1 en gisteraand in Johannesburg was dit Chris Humpries van Wits wat die NWU se harte gebreek het. Op daardie stadium was die telling 24-24 elk en Humphries se skop, vyf minute voor die eindfluitjie, het ‘n oorwinning van 27-24 oor die Potchefstromers verseker.
Dit wedstryd was ‘n spreekwoordelike stryd van twee helftes met Wits wat 17-5 teen rustyd voorgeloop het. Puik drieë van Matt McDonald, Phillip Krause en Daniel Kasende, als in die eerste 26 minute van die wedstryd, het die NWU op die agtervoet gesit. Dit kon erger gewees het as Wits al die drieë verdoel het. Na halftyd is die senter, Evardi Boshoff na losskakel geskuif in Wihan von Wielligh se plek wat die NWU meer aanvallend gemaak het.
Die NWU kan wel geloof word vir hulle veggees in die tweede helfte met agtsteman Edmund Rheeder wat sy tweede drie druk en Chuiner van Rooyen sowel as Lincoln Daniels wat ook oorduik. Een aspek wat die NWU geknou het was hul akkuraatheid met doelskoppe. Indien hul al hulle drieë verdoel het kon hul as wenner uit die stryd getree het. Dissipline het natuurlik ook ‘n rol in hulle ondergang gespeel.
André Pretorius se span sal nou nie meer nederlae kan bekostig nie en niks minder as ‘n oorwinning teen UJ volgende Maandag (2 Maart) sal genoeg wees vir ‘n halfeindstryd plek nie. Dit gaan nou oor die fyn lyn tussen wen en verloor en die NWU sal aan die ander kant moet begin trap.
Punte:
Wits: 27 (17) Drieë: Matthew MacDonald, Philip Krause, Dan Kasende, Travis Gordon. Doelskop: Kurt Webster. Strafskop: Christian Humphries,
NWU: 24 (5) Drieë: Edmund Rheeder (2), Chuiner van Rooyen, Lincoln Daniels. Doelskop: Lungelo Gosa
Foto’s: Dominic Barnardt









