Baie van die beste dinge in die lewe kom uit die bloute. Vir die plaaslike Noordwes Dragons Rural kaptein, Michael Enslin, was sy toekenning as Krieket Suid-Afrika se beste plattelandse speler ‘n massiewe positiewe verrassing.
“Om eerlik te wees, ek het nie gedink ek het genoeg gedoen om die toekenning te verdien nie, maar ek is baie dankbaar dat die organiseerders my raakgesien het en dat ek hulle beïndruk het.
“Ek wil ook van die geleentheid gebruik maak om RCSA te bedank vir die wonderlike diens wat hulle vir krieketspelers in Suid-Afrika bied,” het Enslin onomwonde genoem.
Enslin het in sy tweede jaar in die NW Rural-span uitgeblink en in sy tweede nasionale toernooi ook vir NW vir die vierde agtereenvolgende jaar na die nasionale titel en eerste plek op die ranglys gelei.
By die Krieket Suid-Afrika Plattelandse Krieketweek het hy in 4 beurte 125 lopies aangeteken met ‘n hoogste telling van 63* teen ‘n briljante lopiegemiddeld van 125 en kolftempo van 99. Algeheel het hy vir die Dragons 244 lopies teen ‘n lopiegemiddeld van 61 aangeteken.
Met die bal in sy hand het dié veelsydige speler ook geskitter en vyf paaltjies in sy 22 boulbeurte geneem.
Hy het ook 8 paaltjies in die 19/20 seisoen vir die span geneem. In die veld was hy ook kookwater en het vyf keer kolwers met direkte gooie teen die paaltjies terug kleedkamer toe gestuur.
Volgens Enslin is die Rural-span se sukses aan ‘n verskeidenheid faktore, wat uit puik beplanning spruit, te danke.
“Die bestuur van ons span is van top gehalte, te dankie aan Christo Gous. Maande voor die toernooi het ek en hy seker gemaak ons vat ‘n span met ‘n wye verskeidenheid kwaliteite. Ons afrigter, William Molewa, het ons die vrye en oop geleentheid gebied om in ‘n gemaklike omgewing krieket te speel. Dit is ook makliker om saam met spelers soos Charl du Toit te speel, aangesien hy reeds vir vier jaar by die span betrokke is. Ek het soveel by hom geleer.
“Ons onderkaptein, Steffan Vorster, het ook uitstekende raad gegee en tot die algehele sukses van die span bygedra,” vertel die NWU Rural kaptein. Enslin noem ook dat hy in sy persoonlike krieketloopbaan ook baie mense teëgekom het wat hom as speler en mens gevorm het.

“Tyron Peters en Byron Geyve van Jeppe Quondam Cricket Club was na hoërskool, die grootste positiewe aspek van my krieketloopbaan. ‘n Afrigter met die naam Gerhard Oosthuizen van Top Shot Cricket Academy was ook belangrik in dié verband. Die drie afrigters het in die twee jaar wat ek vir Jeppe CC uitgedraf het, my die noodsaaklike tegnieke geleer om nie net wedstryde te wen nie, maar te domineer.
Ek sal hulle ewig dankbaar wees en aanbeveel dat hul enige kind met ‘n droom in die regte rigting sal stuur,” noem Enslin.
Enslin het B.Com. Menslike Hulpbronbestuur aan die NWU studeer en beplan om sy kennis oor Ekonomie as volgende uitdaging ook uit te brei. Op die krieketveld het hy ook sy oë oop vir verdere geleenthede in die sport.

“Vir my is Plattelandse Krieket ‘n goeie geleentheid om kompeterende krieket te speel, asook ‘n kans om myself te bewys aan al die oë wat die Future Cup dophou. Dit is ‘n baie goeie geleentheid vir spelers vir wie dit nie moontlik is om vir die amateurspan uit te draf, ‘n ekstra kans om kompeterende sport te gee.”
Op die oomblik is sy toekoms in die Here se hande en vat hy dit dag vir dag tydens die Covid-19 pandemie met die hoop om weer binnekort sy krieketklere aan te trek.
“Ek vat dit dag vir dag en maak seker my liggaam en mentaliteit is sterk vir wanneer ons krieketspelers weer die groenlig kry.”
Noordwes Rural Dragons se spanbestuurder, Christo Gous, het ook sy lof vir Enslin na ‘n briljante seisoen uitgespreek:
“Michael blink uit as kaptein van die span. Hy het as kaptein van die NW Plattelandse Dragons-span nog geen amptelike wedstryd verloor nie.
“Ek het gesien hoe ‘n jong speler tot ‘n toegewyde speler ontwikkel het. Michael, of Mickey soos ons hom noem, is ‘n baie passievolle krieketspeler. Hy sal altyd tydens die oefening nuwe taktieke en idees probeer. Na my mening is Michael ‘n ware heer van krieket. Elkeen wat Michael ontmoet het, het altyd met groot lof oor hom gepraat.
Sy statistieke tydens die Nasionale Senior Landelike week is ‘n ware weerspieëling van die harde werk wat hy en sy goeie vriend, Steffan Vorster, gelewer het. Albei het die SA Plattelandspan vir die vorige seisoen gehaal en Michael is ook as kaptein van die SA Plattelandspan gekies.”




