SportSport

Voormalige Luiperd en Leeu brul voort

Nie net op die veld nie, maar van die veld af het Van Rensburg nog altyd Jesus Christus se naam groot gehou en alles in sy vermoë gedoen om die beste te wees en ook ander beter te maak.

As ‘n mens na die Luiperds en Leeus-spanne van die 2000’s kyk, dan sal Deon van Rensburg se naam heel moontlik eerste op die spanlys verskyn.

Van Rensburg was bekend as een van die hardwerkendste spelers wat met sy talent en vaardighede groot inspraak in enige span gemaak het waarvoor hy uitgedraf het. Nie net op die veld nie, maar van die veld af het Van Rensburg nog altyd Jesus Christus se naam groot gehou en alles in sy vermoë gedoen om die beste te wees en ook ander beter te maak.

Deon van Rensburg is vandag ‘n familieman, entrepreneur en ‘n dissipel van Jesus Christus wat ‘n verskil in ander se lewens maak om dit elke dag te verbeter. Foto: Twitter

Hierdie Curriebekerwenner saam met die Leeus in 2011, het in talle wedstryde eers vir die Luiperds en toe vir die Leeus gespeel.

Van Rensburg woon tans in Gauteng en is betrokke by die Game Changers Network wat hy gestig het wat help om elke gesin, ouers, kind of atleet ‘n platform te gee waar hul liggaam, siel en gees inligting kan kry om die beste te wees wat hul kan. Verder het hierdie entrepreneur en apteker ook sy eie pap/skommel ontwerp, om maar net ‘n paar van die wyses te noem waar hy ‘n verskil in mense se lewens wil maak.

Deon in sy speeldae vir die Luiperds. Foto: Verskaf

“Op skool, universiteit en nou nog glo ek die gesegde: ‘Jy weet nie wat jy nie weet nie.’ Eers wanneer jy met iemand gepraat het wat self op die plek was waar jy wil wees, sal jy ‘n idee kry van wat dit vat om daar te kom. Dan word jy ook soos die mense met wie jy jouself omring,” verduidelik hy.

As opwindende skolerugbyspeler by HTS Potchefstroom het hy homself omring met ‘n sterk geloof in Sy Vader en ook afrigters wat hom bygestaan het om homself elke dag te verbeter.

“Jesus Christus was nog altyd vir my die enigste mentor. Ek lewe om Hom te behaag en in die talent wat Hy my gegee het wou ek net altyd Sy naam grootmaak.”

“Ek het wel ‘n paar prominente persone gehad wat deel uitgemaak het van my vorming as speler. Op HTS was dit mnre. Chris Jacobs en Johan Pyper en by NWU en Luiperds was dit Oom Burger van der Westhuizen, Eben Verster, Jacques Swanepoel en Chaka Willemse,” vertel hy. Hy onthou ook een wedstryd teen Volkies in 1999 as graad 11-leerder toe hy in ‘n belangrike wedstryd die wendrie gedruk het.

“Ek dink een herinnering wat uitstaan is in 1999 toe ek as 17-jarige heelagter vir HTS se eerste span gespeel het. Ons het teen Volkies op hulle veld gespeel. Die wedstryd was byna verby en ons was ‘n paar punte agter. Ek kon die aanval van Volkies lees, die bal onderskep, ‘n opponent of twee klop en onder die pale druk. Ons het verdoel, die eindfluitjie het geblaas en ons het die wedstryd gewen.”

Daarna het hierdie HTS-alumni vanaf 2004 tot 2009 vir die Luiperds begin naam maak waar hy in 92 wedstryde vir die unie uitgedraf het.

“Daar is heelwat herinneringe, maar die een wat ek die meeste geniet het, het in Oos-London gebeur. Ons het die Vrydagaand laat ‘n Captains Run gehad en die wind het baie erg gewaai, soveel so dat ons losskakel, Clayton Durand, tydens sy stelskopoefening skaars die bal by die pale vanaf die 22m lyn kon uitkry.

“Ek het gesien hy sukkel en het net my oë toegemaak en die Here gevra dat hy vir Clayton sal help met sy selfvertroue. Toe ek my oë oopmaak, was Clayton voor my en kon hy twee balle in die baie sterk wind deur die pale sit.

Deon van Rensburg was bekend vir sy harde verdediging in sy 92 wedstryde vir die Luiperds. Foto: Mario van de Wall

“Die aand na aandete het Deon-hulle ‘n selgroep gehad wat saamgekom het. Die grootste versoek vir die aand was dat die Here die wind sal stil maak vir die volgende dag se wedstryd.
“Die Here het ons gebed verhoor en tydens die wedstryd was daar geen wind nie. Die gevolg daarvan was dat die bal sopnat was van die dou en humiditeit sodat daar ‘n groot aantal hanteringsfoute was.

Dit was vir ons en veral vir my ‘n baie mooi les om die Here se wil te soek en nie my/ons eie wil nie. Hy weet altyd beter as wat ons dink,” beklemtoon hy.

Einde 2008 was Van Rensburg in die Leeus se Superrugbyoefengroep en het in 2009 saam met die Leeus na Austalië en Nieu-Seeland getoer, waar hy toe sy kans in die Leeutrui gekry het. Vir die volgende paar seisoene was Van Rensburg aan die voorpunt van die Leeus se aanval, waar hy goed was onder die hoë bal, sterk verdedig het en altyd vir aksie gesoek en deurdringende lyne gehardloop het.

“Jaque Fourie is in die eerste wedstryd beseer en het ek my kans gekry om my as ‘n buitesenter te bewys.

Dit was vir my ‘n goeie seisoen en is ek gekies om twee keer teen die Britse en Ierse Leeus te speel. In die eerste wedstryd van hulle toer het hulle teen ons in ‘n Royal Bafokeng 15-tal gespeel, waar ons hulle byna geklop het en ‘n tweede keer waar ek vir die Opkomende Springbokke op Nuweland teen hulle kon speel waar ons gelykop geëindig het,” vertel hy.

Twee jaar later is Van Rensburg ‘n Curriebekerwenner saam met die Leeus.

“Die semi-finaal teen die WP op Ellis Park was seker een van my beste wedstryde ooit en het die nodige voorbereiding gedoen sodat ons ‘n baie spesiale finaal kon speel en as oorwinnaar van die veld kon gaan,” onthou hy.

Verlede jaar het hy ook weer sy rugbybrein afgestof en vir die 2019-seisoen as hoofafrigter by Randfontein Rugbyklub gedien.

“As afrigter was my hart om inspraak in mense se lewens te maak en te sien hoe daar regstelling kom in hulle lewe deur die seisoen. My passie was om elke speler te help om die beste weergawe van homself te wees. Klubrugby is maar ‘n moeilike opset in SA. Ek het na dit besluit om nie weer voltyds af te rig nie, maar eerder te konsulteer en inspraak te maak in ander afrigters en spelers se lewens,” noem hy.

Dit is juis hierdie mentaliteit wat Van Rensburg dryf om ‘n verskil te maak in ander se lewens – nie om homself te prys nie, maar as Jesus se dissipel vir mense liefde te wys.

“Ek is eerstens ‘n dissipel van Jesus en is ek geroep om mense van God se liefde en genade te vertel. My inspirasie was altyd om elke dag ‘n beter weergawe van myself te wees. Om elke dag net 1% beter te wees as gister, is jy na ‘n jaar 365% beter as wat jy was. Ek luister graag na goeie advies en leer met elke geleentheid wat ek kan.”

Deon het groot planne en weet dat die Here se wil nog sterk in sy lewe funksioneer saam met sy vrou en drie kinders waarvoor hy baie lief is en soveel moontlik mee tyd spandeer.

Deon van Rensburg saam met sy gesin. Foto: Facebook

“As dit die Here se wil is sal ek Game Changers Network reg oor die wêreld sien uitrol. Ek wil sien hoe my pap/skommel, Rejoice, mense se gesondheid bevorder en help om finansies los te maak vir elkeen wat deel is en wil wees van ons Rejoice span. Ek nooi almal uit wat deel wil word van ‘n span waar ons die beste uit mekaar bring, om via www.rejoicecereal.co.za kontak te maak.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button