SportSport

Talent en tegniek in haar arsenaal

Vanjaar het Van Aswegen nuwe lengtes onder ‘n nuwe afrigter bereik met ‘n persoonlike beste gooi van 10.58 meter in die gewigstoot, sowel as ‘n afstand van 29.9 meter in die diskus.

Op die oog af lyk Laerskool Mooirivier se Martiné van Aswegen soos enige gewone 11-jarige met ‘n passie vir atletiek wat in haar are vloei.

Dit is eers wanneer sy in die gewigstoot-sirkel staan en die gewig meters ver laat trek, dat ‘n mens besef watter spesiale talent sy het.

Vanjaar het Van Aswegen nuwe lengtes onder ‘n nuwe afrigter bereik met ‘n persoonlike beste gooi van 10.58 meter in die gewigstoot, sowel as ‘n afstand van 29.9 meter in die diskus. Sy het ook onlangs ‘n derde plek by ACNW se Sub-Jeug kampioenskappe in die o.14 kategorie behaal, wat ‘n groot prestasie vir haar as 11-jarige is.

Haar nuwe afrigter is niemand anders as Richardo Ellis, wat vir jare in Potchefstroom as atletiekafrigter en as stadionbestuurder by die NWU McArthur-stadion diens gedoen het.

Volgens Ellis is dit goed om weer terug te wees in Potchefstroom met ‘n nuwe doel voor oë: Om onder die vaandel van Laerskool Mooirivier sy Athletics Performance Academy uit te brei.

Met hierdie akademie wil Ellis jong atlete in alle aspekte van atletiek fiks maak. “Ek het baie navorsing gaan doen rondom oefentegnieke en veral gekyk hoe Duitsland hulle programme aanbied. Tegniek is een van die belangrikste punte en dit is iets waarop ek saam met Martiné fokus.

Sy is nog in haar ontwikkelingsfase en dit is nou belangrik om haar fisies sterker te maak sonder om spiere te bou. Veerkrag is belangrik vir wanneer sy gooi sodat sy die maksimum spoed kan bereik,” verduidelik Ellis. Met oefeninge word daar op haar gooie gefokus, maar daar word ook ‘n spesiale vyf minute rusperiode geskep waar sy kan visualiseer en asem skep.

“My atlete geniet dit wanneer ek vir hulle sê dat hulle op hul rûe kan lê en rus. Dit gee vir hulle kans om te rus en op die positiewe te fokus voordat hulle gooi, anders is daar baie senuwees,” verduidelik Ellis.

Volgens Ellis is dit ook lekker om te sien hoe Van Aswegen honger is om haar afstande te verbeter en terselfdertyd nie bang is om die harde werk in te sit nie.

“Ons volgende groot byeenkoms is die Sub-Jeug provinsiale kampioenskappe op 24 April en ons glo sy kan weer presteer daar,” vertel hy opgewonde.

Enige persone/atlete wat belangstel om by Richardo se Athletics Performance Academy aan te sluit, kan Laerskool Mooirivier by (018) 293 0309 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button