As jy goed genoeg is dan is jy oud genoeg. Hierdie gesegde pas perfek by die nuwe SA senior kampioen in die vroue 1 500 meter, Danielle Verster. Verster, ‘n leerder van Potchefstroom Gimnasium, het ‘n nuwe persoonlike beste tyd van 4:20.54 opgestel om die goud in te palm en haar naaste teenstanders met vier sekondes te klop.
Danielle, dogter van die bekende kampioen middelafstandatlete Jean en Alta Verster, het kampioengene in haar bloed en op 17-jarige ouderdom het sy een van die grootste prestasies in SA atletiek behaal.

Haar vordering in die afgelope jaar is merkwaardig in die sin dat sy gedurig haar eie persoonlike beste tyd verbeter het. Verlede jaar het sy ‘n tyd van 4:27.78 opgestel en sodoende in slegs ‘n jaar sewe sekondes op die baan gesny.
Danielle is een van tien Atletiek Sentraal Noordwes-atlete wat goud behaal het tydens die 2021 ASA Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe. Dit is vanaf 15 tot 17 April by Tukkies in Pretoria gehou met ACNW wat ‘n tweede plek behaal.
Nog ‘n top jong atleet van ACNW, Jo-Ané van Dyk (23) het een van SA se top spiesgooiers en Olimpiese silwermedaljewenner, Sunette Viljoen, in die vroue spiesgooi-finaal geklop.
Van Dyk het met ‘n uitstekende gooi van 59.47 meter ‘n persoonlike beste afstand behaal en net-net die 60 meter merk gemis.

Tiaan Kleynhans (24) het ook ‘n persoonlike beste tyd van 13.62 in die 110 meter hekkies behaal om goud te wen en een van die gunstelinge, Antonio Alkana, te klop. Alkana is ‘n voormalige SA en Afrika-kampioen in die 110 meter hekkies.

Nog atlete wat goud vir ACNW verwerf het is Marga en Alan Cumming in die vroue en mans hamergooi, sowel as Joné Kruger in die dames verspring-item. Marga het ‘n afstand van 64.30 meter gegooi met haar broer, Alan, wat die hamer ‘n stewige 72.78 meter laat trek het. Kruger het met ‘n sprong van 6.36 meter gewen.
“Dit is ‘n ongelooflike gevoel om my eerste senior titel te hê, en ‘n groot voorreg. Ek het my dyspier twee weke voor die SAs seergemaak en tot die oggend van die kompetisie was ek nog nie seker of ek sal kan spring of nie. “Dit is nie my beste afstand nie, maar gesien in die lig van die omstandighede is ek baie bly en tevrede met my uitslae,” noem Kruger.
Karmen Fouché van Gimmies het ‘n silwermedalje in die verspring-item behaal wat ‘n skitterende prestasie op hierdie vlak is.
Mpho Links (hoogspring), Riette Heyns (diskus), Lee-Ann Marx (sewekamp) en Zelda Schultz (20km stap) het ook met goud gespog. Links het et ‘n sprong van 2.15 meter vir Breyton Poole van WP geklop. Heyns het die diskus 55.32 meter laat trek vir haar oorwinning.
Schultz se wen was ook groot vir ACNW en het bewys dat die room van stappers in hierdie streek is.




