Neserliga-pad begin Saterdag vir Potch Dorp teen Ikageng
Agt jaar is ‘n lang trofeedroogte en dit is iets wat almal by dié tradisieryke klub sal wil regstel. Die eerste trap op die leer na bekerglorie begin hierdie Saterdag, 8 Mei in die eerstespan se eerste ligawedstryd tuis teen Ikageng.
‘n Neserliga-sege is vanjaar sonder twyfel in Potchefstroom Dorp Rugbyklub se visier. Met ‘n opwindende groep spelers, top afrigters en ‘n honger vir sukses, lyk sake vir die klub wat laas in 2013 die beker gelig het, belowend.
Agt jaar is ‘n lang trofeedroogte en dit is iets wat almal by dié tradisieryke klub sal wil regstel. Die eerste trap op die leer na bekerglorie begin hierdie Saterdag, 8 Mei in die eerstespan se eerste ligawedstryd tuis teen Ikageng.
Potch Dorp se hoofafrigter, Joe Smith, is opgewonde oor die seisoen en om daadwerklik te begin na ‘n lang tydperk op die kantlyn vir klubrugby weens die Covid-19-pandemie.
“Dit gaan Saterdag verseker ‘n harde wedstryd teen Ikageng wees. Hulle het ‘n paar vinnige manne en hulle duik hard, so ek weet dit gaan een van ons hardste wedstryde in hierdie liga wees,” noem hy.
Die opwindende heelagter, Llewellyn Ellis, is as die kaptein vir die eerstespan aangewys vir Saterdag se wedstryd en hy kan nie wag om in ‘n wedstryd-omgewing te wys wat in hom steek nie.
“Vanjaar is daar baie kompetisie in die span omdat daar so baie nuwe talent hier by die klub is. Ons doel is om die beker terug te bring Potch toe en ek sien uit na wat ons as ‘n span kan doen,” meen hy. Smith is dit ook eens dat dit vanjaar hul doewit is om die Neserliga te wen, veral omdat die span verlede jaar voor Covid-19 en die inperking, goeie rugby gespeel het.
“Ons het verlede jaar vir Klerksdorp tuis gewen en ek glo ons kon dit verlede jaar wen. Ek glo die kanse is vanjaar nog beter om die liga te wen. As ons die spelers behou wat ons nou het en elke week opdaag met die regte mentaliteit, dan staan ons ‘n goeie kans. Dit gaan nie net ’n span van 23 spelers vat nie, maar die hele groep van 50,” noem hy.
Met ‘n groep van sowat 50 spelers tot Potch Dorp se beskikking is dit goed om te sien dat die belangstelling in klubrugby nou sterker as voorheen is. Smith skryf dit toe aan die kultuur in die klub en die passie vir rugby wat daar van oud tot jonk is.
“Om klubrugby te laat groei, moet daar gereeld gespeel en die liefde vir die spel gekweek word. Hier is ouens wat beseer is en nog steeds oefeninge bywoon om te help waar hulle kan. Mense hou van die verskeidenheid spelers wat daar in klubrugby is.
“Dit maak nie saak of jy groot, klein of vinnig is nie, daar sal ‘n plek vir jou by Potch Dorp wees. Dit is ‘n familie hier.”
Potch Dorp 1 speel teen Ikageng om 16:00, terwyl Potch Dorp 2 die verrigtinge sal begin om 14:00 in die Reserweliga teen Khuma. Weens die SARU en die Luiperds se Covid-19 regulasies word geen toeskouers toegelaat nie.




