Een van die interessantste seisoene nog in Varsitybekergeskiedenis het die afgelope Maandag, 31 Mei, tot ‘n einde gekom na drie bio-borrel fases van die kompetisie weens die huidige Covid-19 pandemie.
Al was daar geen toeskouers nie, was die rugby die hele kompetisie vuurwarm en opwindend met Tukkies wat die Universiteit van Kaapstad se Ikeys in die eindstryd op hulle tuisveld in Pretoria met 34-27 geklop het.
Die Noordwes-Universiteit het verlede Vrydag hulle laaste sê in die kompetisie vir vanjaar gehad toe hulle teen die Ikeys in die halfeindstryd met 54-36 vasgeval het.
Om die top vier te kon haal was nog altyd die groot doelwit vir die NWU wat onder André Pretorius se leiding as hoofafrigter, tot ‘n span gegroei het wat vir mekaar speel – maak nie saak teen wie hulle speel nie.

Photo: Christiaan Kotze/ Varsity

Photo: Christiaan Kotze/ Varsity
Pretorius het hierdie week met die Herald gesels en uitgelig dat hy tevrede is met hoe die span karakter gewys het en mekaar as ‘n span ondersteun het, al kon hulle nie die knoop deurhak in die halfeindstryd nie.
“Dit was lekker om te sien hoe ons planne mooi uitgewerk het in die eerste 15 minute toe ons 15-0 voorgeloop het. Ons het later onnodige foute gemaak en balle weggeskop wat ‘n mens nie teen ‘n span soos Ikeys kan doen nie. “Drie van hulle drieë was ook as gevolg van individuele foute van ons kant af en dit het ‘n groot rol gespeel. Toe die gaping groter word op die telbord, kon ek agterkom dat ons spelers begin moeg word,” noem Pretorius.
Sy span het net drie dae gehad om te herstel nadat hulle verlede Dinsdag teen die Ixias vir ‘n plek in die halfeindstryd moes speel. Die NWU het vanjaar ‘n groot groep tot hulle beskikking gehad waar talle nuwe gesigte hulle merk op die veld gemaak het. Pretorius noem dat hy al die spelers die geleentheid wou gee, veral omdat spelers maklik gedemotiveerd kan word om net in die borrel te wees en glad nie te speel nie.
Al het sekere spelers nie altyd speelkans gekry nie, het hulle nie bekaf geword nie en steeds hulle alles vir die span gegee, al kon hulle nie speel nie. “Dit was vir my lekker om te sien hoe die jonger spelers in die span soos Keano Windvogel en Nivan Petersen hulle talent bewys het en geleenthede aangegryp het.

By die voorspelers het Gustav du Rand, Malembe Mpofu en André Fouché ook baie goeie seisoene gehad. Ruben Dreyer en Jeandré de Beer het ook van die bank af goed vertoon. Agterlangs was Keano, Pienaar van Niekerk, Margo Donges en Chuiner van Rooyen baie goed. Dis moeilik om sekere spelers uit te sonder as almal hulle kant bring as ‘n span,” beklemtoon Pretorius.
Die voormalige Springbok losskakel noem ook dat hy dit geniet het om te sien hoe Lincoln Daniels as ‘n splinternuwe kaptein sy leierskap ontwikkel het.
“Lincoln het gewys dat hy op die veld besluite kan neem. Dit was vir my belangrik om daardie groei te sien deur die loop van die toernooi.”




