Die bekende Potchefstroomse atleet, Elroy Gelant, mik om ‘n medalje by die Olimpiese Spele in Tokio vanjaar in die marathon-wedloop te wen. Gelant wat bekend is as ‘n SA kampioen baan en landloopatleet het by die vorige 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro aan die 5000m finaal deelgeneem, maar mik nou om ook sy stempel in die marathon af te druk.
“Na die vorige Olimpiese Spele het ek besluit dat ek wil fokus op langer afstande en wou die marathon ‘n kans gee. Ek was eers ‘n pasaangeër in my eerste marathon en het net 26km gehardloop. Van daaraf het ek ‘n vier jaar plan gehad om vir die Olimpiese Spele marathon te kwalifiseer. Noudat ek Olimpiese Spele toe gaan, verander dit my voorbereiding verder en ek is baie gemotiveerd om ‘n medalje terug te bring,” noem Gelant.

Hy het alreeds baie navorsing oor die Marathon by die Spele gedoen. Buiten goeie geestelike voorbereiding het Gelant ook onlangs vir die tweede keer die SA kwalifiserende Olimpiese Spele tyd van 2:11:45 behaal toe hy die Langa Marathon op Saterdag, 29 Mei in 2:11:22 voltooi het.
Die 34-jarige atleet het alreeds in 2019 vir die Olimpiese Spele in Tokio gekwalifiseer toe hy ‘n tyd van 2:10:30 tydens die Kaapstad Marathon behaal het. ‘n Besering wat hy tydens die 2020 Londen Marathon opgetel het, het hom effens geknou, maar nou lyk dit of hy weer terug op sy beste is na sy goeie vertoning van twee naweke gelede.
“Na my besering in Londen moes ek eers weer herstel. Ek moes ook kyk of my liggaam gereed is en dit is hoekom ek aan die Langa Marathon in die Kaap deelgeneem het. Dit was ‘n goeie geleentheid om myself voor die Spele te toets,” beaam hy. “Ek is baie opgewonde oor die Olimpiese Spele en wil kompeterend wees. Ek het drie marathons voltooi en ek weet ek sal gereed wees as ek aantree in Tokio.”
Die marathon-wedloop sal op 8 Augustus plaasvind met die verdedigende Olimpiese kampioen, Eliud Kipchoge (Kenia) wat sy titel sal wil verdedig. Stephen Mokoka en Desmond Mokgobu is die twee ander Suid-Afrikaners wat ook in die marathon-wedloop sal deelneem. 



