SportSport

NWU slot vind nuwe tuiste by Griekwas

Nou mik Leonard Kimberley toe na ‘n treffende seisoen in Potchefstroom waar hy baie geleer het en altyd sal terugkyk as die plek waar hy geleenthede gegun is en dit met albei hande aangegryp het.

Die Noordwes-Universiteit se rugbyfabriek het vanjaar weer eens ‘n top slot opgelewer met die Varsitybeker nommer 5, Jeandré Leonard, wat sy rugbydrome verder by die Griekwas gaan voortsit. Leonard het vanjaar uitgeblink as een van die NWU se top voorspelers wat met sy werkverrigting, fiksheid sowel as spel in die lynstane en balvaardighede beïndruk.

Leonard druk vir die NWU tydens die 2021 Varsitybekertoernooi. Foto: Christiaan Kotze

“Dis vir my ‘n groot stappie in die regte rigting om raakgesien te kan word en die ondervinding te kan opbou om Curriebeker rugby te kan speel,” noem Leonard, nadat sy Griekwas skuif verlede week aan die lig gekom het.

Leonard volg in die voetspore van voormalige NWU spelers soos John-Roy Jenkinson en Gideon van der Merwe, wat ook vir die Griekwas speel.

Jeandre Leonard in aksie tydens vanjaar se Varsitybeker. Foto: Catherine Kotze

“My doelwitte is om myself as rugbyspeler te verbeter in al die aspekte van die wedstryd, want ek het nog afronding nodig om die beste speler te wees wat ek kan wees,” vertel hy. Leonard weet ook dat geen man ‘n eiland is nie en verwys na ‘n paar spesiale mense wat hom nog altyd op sy rugbyreis bygestaan het.

“Coach Chaka (Chaka Willemse) het in my geglo vandat ek by die NWU begin rugby speel het in my o.19 jaar waar ek baie by hom geleer het. Hy het my as rugbyspeler en mens baie laat groei,” vertel Leonard, wat vanjaar ook onder Chaka by die NWU se Varsitybekerspan sy talent gewys het.

“My pa is beslis ook op die lysie. Hy het my nog altyd gedruk om beter te wees en my gemotiveer om elke keer die ekstra myl te loop. “Jannie Brooks het my op die volgende vlak gesit (oefening gewys) waar ek ook by hom geleer het om altyd harder te werk as die persoon bo of onder my,” vertel Leonard. Sy oupa, Jacobus Hendrik, het in die 1950’s ook vir Transvaal en Natal rugby gespeel.

Die NWU Varsitybeker slot, Jeandré Leonard, is gereed om sy merk by die Griekwas te maak. Foto: Verskaf

Leonard lê ook klem op die waarde wat sy meisie en mede NWU sportster, Caitlinn Rousseau (NWU netbalspeler) die afgelope drie jaar gebied het.

“Sy het my gemotiveer deur die moeilike tye met my kniebesering in 2019 toe ek nie kon rugby speel nie. So ook weer toe ek by die 2020 Varsity Cup groep aangesluit het en vyf wedstryde kon speel. Ons het mekaar ook deur lockdown gehelp om fiks te bly en die oefeninge te doen wat deur ons afrigters gegee is,” verduidelik hy.

Die sade van Leonard se rugbyloopbaan is al van jongs af geplant, waar hy by Laerskool Randhart en Hoërskool Garsfontein slot gespeel het. Hy het ook baie meer oor rugby geleer toe hy vir Harlequins Rugby Klub in Pretoria gespeel het. Al hierdie ervarings het vir hom baie beteken in sy tyd by die NWU waar hy van sy beste rugby gespeel het. Hy skryf dit toe aan die uitstekende spandinamika en vriendskappe wat by die NWU gevorm word.

“Die broer wat saam met jou speel het elkeen sy eie karakter, maar saam kon ons baie regkry. Ons het veral vanjaar baie goeie vriendskappe gebou. “Alles hang af van hoe goed die span en veral die voorspelers saamwerk. Om lynstane te wen hang nie net van een speler af nie, maar van die span wat saamwerk – dieselfde by die skrums en losgemaal,” noem hierdie spanspeler. Vir Leonard gaan dit nie om as ‘n individu ten koste van die span te presteer nie, iets wat ‘n mens kan sien wanneer daar oor sy drieë van vanjaar gesels word.

“Dit gaan vir my meer om die geleenthede te skep sodat ons punte kan kry. Dit is vir my ‘n eer om die drie te kan afrond. My gunstelingdrie was teen UWC toe ons lynstaan goed gewerk het en ek kon druk,” sê Leonard.

Hy het reeds sy BA en MBW-graad en graad in Sielkunde verwerf en is tans besig met sy PG Diploma in bestuur aan die NWU Besigheid-skool.

Nou mik Leonard Kimberley toe na ‘n treffende seisoen in Potchefstroom waar hy baie geleer het en altyd sal terugkyk as die plek waar hy geleenthede gegun is en dit met albei hande aangegryp het. Curriebekerrugby is op hierdie jong man se spyskaart en hy kan nie wag om die smaak daarvan te proe nie.

“Ons by die Griekwas is ‘n goeie groep met baie potensiaal om ver te kom. Ek wil soveel as moontlik wedstrydtyd kry om myself te kan verbeter,.” sê hy.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button