Die huidige o.20 SA kampioen in hoogspring en verspring, Karmen Fouché, is sonder twyfel kampioenmateriaal. Hierdie atleet van Potchefstroom Gimnasium is al vir ‘n klomp jare die toonaangewende atleet in Suid-Afrika in haar items en nou is haar kanse groot om vir die wêreld te wys watter talent hier in Potch is.

Karmen gaan haar land vanjaar vanaf 17-22 Augustus by die o.20 Wêreldatletiekkampioenskappe in Kenia verteenwoordig. Karmen (18) het vanjaar ‘n persoonlike beste afstand van 6.29 meter in die verspringput tydens ‘n ligabyeenkoms van Atletiek Gauteng Noord behaal. Sy spog ook met ‘n top hoogte van 1.80 meter in hoogspring. Om haar prestasies in perspektief te bring, kan ‘n mens net kyk na haar top poging by die SA Senior Atletiekkampioenskappe waar sy twee silwer medaljes behaal het – fenominaal vir ‘n matrikulant wat teen SA se top atlete kompeteer.
Karmen is tans derde op die ranglys van top verspringatlete in Suid-Afrika en tiende in Afrika. Sy kan haar goue seisoen in Kenia voortsit en kan ‘n paar groot name verras in ‘n kompetisie waar sy as nuweling niks het om te verloor nie. “Dit is die begin van my drome wat waar word. “Dit is n groot geleentheid vir my om teen wêreldklas atlete deel te neem. Om te kwalifiseer was my hoofdoelwit vir die jaar en ek dink al lank daaraan,” noem sy opgewonde.
“Dit gaan baie goed met my voorbereiding. Ek is positief en beseringvry. My program is aangepas sodat ek in Augustus weer kompetisiefiks kan wees,” verduidelik Karmen.
Karmen noem dat sy graag haar eie persoonlike beste wil verbeter in Kenia. “Elke keer as ek deelneem is my doelwit om ‘n persoonlike beste te behaal en as ek dit in Kenia regkry, sal ek tevrede wees.” Karmen se ouers was ook twee top atlete wat albei vir Suid-Afrika verteenwoordig het.
Haar pa Louis was die 1993 Universiade Studente Spele spiesgooikampioen en het ook ‘n vyfde plek tydens die 1994 Statebondspele behaal. Haar ma, Maralize (née Visser) was ‘n bekende sewekampatleet wat goud by die 1999 Afrika Spele behaal het. Sy het ook ‘n SA rekord in 1999 van 6 019 punte in Götzis opgestel. Karmen skryf haar goeie vorm en atletiekprestasies aan talent, maar ook harde oefening en baie opoffering toe.
“Ek het vertroue in my afrigters, Willem Coertzen (verspring) en Martin Marx (hoogspring) en ek waardeer die ondersteuning van my ouers, familie en vriende. Ek het ook die wil om altyd te wil verbeter.”




