
’n Historiese Neserliga-finaal is hierdie Saterdag, 19 Junie op die kaarte wanneer Potchefstroom Dorp Rugbyklub en Ikageng Rugby Development Club sake op Olënpark uitspook. Albei spanne het vanjaar sonder twyfel die beste rugby in die liga gespeel en hulle fantastiese oorwinnings in die halfeindstryde was top voorbeelde hiervan. Potch Dorp het vir Zeerust met 46-12 geklop, terwyl Ikageng vir Lichtenburg met 43-27 verslaan het.
Kyk die video hier:

Dit was veral vir Ikageng ‘n groot prestasie aangesien dit die eerste keer is wat hulle die eindstryd haal. Potch Dorp sal graag die beker wil terugbring wat hulle laas in 2013 gewen het en die trofeedroogte breek. Potch Dorp het ook voorheen in die seisoen die oorhand oor Ikageng gehad met ‘n 50-32 oorwinning en sal graag weer hulle opponent wil verslaan.

Dit sal nie maklik wees nie, aangesien Ikageng se vinnige tempo en hardlooprugby sommer gou ‘n span teen die grond kan bring. Vir Potch Dorp om suksesvol te wees, sal hulle struktuur moet hê en Ikageng nie kans gee om die spel los te hou nie. Enersyds sal Ikageng die tempo heeltyd moet volhou en veral voorlangs moet sterk staan en nie vir Dorp se skakelpaar, Danie van der Merwe en Luan Murray, kans gee om sake te beheer nie.
Llewellyn Ellis, Potch Dorp se kaptein, is opgewonde oor die eindstryd en glo dat die span wat dit die graagste wil hê, die beker sal lig. “Dit is ‘n moeilike span om te speel, ons voel dit is baie goeie kompetisie en ons sal ons alles moet gee. Ons moet fokus op ons sterkpunte en weet dat ons gaan hard werk.

“Ons groep is gereed en ek sien baie uit daarna,” voeg Ellis by.
Sikho Meke, Ikageng Rugby Development Club se kaptein weet ook dat sy span net een stap van ‘n ongelooflike bekersege is. Vir ‘n span wat maar sedert 2006 bestaan, is geskiedenis in die volgende 80 minute in hulle hande.
“Ons wil vir Potch Dorp ‘n moeilike tyd gee. Ek vertrou my manne om alles in die finaal te gee. Ons vertrou ons eie spel en speel aanvallende rugby. Dit is belangrik om geduldig te wees en van ons geleenthede gebruik te maak. Die belangrikste is dat ons onsself wil geniet,” noem Meke.
Volgens Covid-19 maatreëls mag geen toeskouers die wedstryd bywoon nie.
Die wedstryd skop om 15:30 af.



