SportSport

Potch Dorp se getroue dienaar vir ’n dekade

Jaar na jaar kom hy terug in die nommer 3 trui vir die tradisieryke span omdat daar duidelik iets spesiaal aan klubrugby by Potch Dorp is.

Rugby is deel van die ervare Potch Dorp stut, Doynton Berry, se lewe vandat hy die eerste keer ‘n rugbybal gesien het. Doynton is al vir 11 jaar by Potch Dorp Rugbyklub as speler betrokke en het al baie spelers gesien kom en gaan en in daardie tydperk sy bloed, sweet en trane op die veld vir die klub gelos.

Jaar na jaar kom hy terug in die nommer 3 trui vir die tradisieryke span omdat daar duidelik iets spesiaal aan klubrugby by Potch Dorp is.

Doynton Berry bespreek rugby met sy hulpafrigter by Potch Dorp, Leslie Jackson.

Rugby is in Doynton se gene – sy pa Don, het meer as 100 wedstryde vir Wes-Transvaal gespeel en speel steeds ‘n groot rol in Doynton se lewe op en van die veld af. Hy en sy pa werk ook saam in die tweedehandse motorbedryf. “Ek het van kleintyd af van rugbyballe gehou en ek hou van goeie kompetisie. Dit was die sport wat vir my die lekkerste was.”

“My pa het beslis ‘n groot invloed op my rugby. Hy ondersteun my al my lewe lank langs die veld. By tuis- of wegwedstryde, maak nie saak waar ons speel nie,” noem Doynton wat in Laerskool Hendrik Potgieter was en in 2010 aan Hoër Volkskool Potchefstroom gematrikuleer het.

Basies het Doynton sedert hy uit die skool is, nog altyd klubrugby gespeel en is al ‘n sinoniem met die maroen-trui. Doynton se stewige figuur en blonde hare is iets wat al kenmerkend van die Potch Dorp span is. “Die lekkerste deel van klubrugby is om in die aande saam met ‘n groep vriende wat jy leer ken, bymekaar te kom en jouself te geniet. Almal kom van verskillende agtergronde en verskillende plekke bymekaar en word groot vriende tussen die lyne,” verduidelik hy die klubkultuur by Potch Dorp.

Sy gunstelingherinnering is Potch Dorp se suksesvolle 2013 Neserliga oorwinning. “Daardie jaar het ek saam met een van my groot vriende, Ruaan van den Berg, en afrigters André Pretorius en oom Anton Mostert, die beker gelig,” noem hy.

Van die veld af geniet Doynton braaivleis en ‘n bier en om saam met vriende tyd te spandeer. Hy noem ook dat hy altyd tyd sal maak vir sy vriende.

Doynton Berry

“Ek is ‘n vriendelike en sosiale persoon. In my af-tyd hou ek daarvan om tyd saam met my vriende te spandeer, of dit nou by ‘n braai is of almal saam gaan muurbal of tennis speel. Ek is ook baie lief vir jag en om in die natuur te wees.”

Wanneer Doynton eendag sy tokse ophang, sal hy graag saam met sy vrou op sy familie fokus en die lewe soveel as moontlik geniet.

“My droom is om my kinders saam met my vrou te kan sien grootword en ‘n avontuurlustige lewe saam met hulle te kan leef.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button