Die Luiperds se spasie op Olënpark is vir die volgende twee weke bespreek nadat hulle aan die einde van vanjaar se Curriebeker Eerste Divisie groepfase, die boonste plek beklee.
Die Luiperds het hulle vorm die afgelope Saterdag, 31 Julie teen Grens met ‘n oortuigende 56-13 oorwinning op Olënpark bewys, maar dit is vir eers in die verlede.

Nou is alle oë op die halfeindstryd teen die Boland Kavaliers hierdie komende Vrydag, 6 Augustus op die Luiperds se tuisveld, waar hulle onoorwonne is vanjaar. Die tuisvoordeel sal veral in die Luiperds se guns tel, maar hulle sal steeds alles op die veld moet los om ‘n taai kalant soos Boland te klop.

Die Luiperds, wat tot dusver die meeste punte (205) en drieë (31) in die kompetisie gedruk het, sal net soos teen Grens verlede naweek, ook in albei helftes ‘n goeie vertoning moet lewer om die druk op Boland te plaas.
In ‘n half-eindstryd is die telbord die span wat voorloop se beste vriend, en punte vroeg in die wedstryd sal beslis gerusstellend wees in ‘n uitklopstryd.

‘n Plek in die finaal is op die spel en die Luiperds sal hulself graag ook weer op Olënpark in die eindstryd wil bevind – net soos in 2015 toe hulle die beker vir die laaste keer gelig het.
Sleutelspelers vir die Luiperds sluit in hulle onderkaptein, Danrich Visagie, wat as losskakel ‘n uitstekende toernooi beleef.
Visagie het beslis sy skopskoene aan en het teen Grens ‘n foutlose skopvertoning gelewer met ‘n 100 persent slaagsyfer. Die heelagter, Duren Hoffman, is ook ‘n glibberige kalant en bied baie moontlike op die aanval. Regtervleuel, Lincoln Daniels, weet ook hoe om drieë in te palm.

Die Luiperds se ander sterkpunt voorlangs lê in hulle lostrio – André Fouché, Heinz Bertram en Siya Mdaka/Edmund Rheeder, sowel as die slotte, Vincent Maruping en Malembe Mpofu wat ‘n taai en harde span in die lynstane vorm. Die wenner tussen die Luiperds en Boland sal teen of die Valke of Griffons te staan kom, wat in die ander half-eindstryd in Welkom kragte meet.

Die half-eindstryd tussen die Luiperds en Boland skop Vrydag, 6 Augustus om 16:35 af op Olënpark. Volgens Covid-19 protokol kan geen toeskouers bywoon nie. Die wedstryd kan regstreeks op Supersport gevolg word.

Luiperds span teen Boland: 1. Komape Moloto, 2. Robey Leibrandt, 3. Ruan Swiegers, 4. Malembe Mpofu, 5. Vincent Maruping, 6. Siya Mdaka, 7. Heinz Bertram, 8. André Fouché, 9. Shirwin Cupido, 10. Danrich Visagie, 11. Eugene Hare, 12. Tjaart Benade, 13. Dries Truter, 14. Lincoln Daniels, 15. Duren Hoffman Plaasvervangers: 16. Gustav du Rand, 17. Ruben du Plessis, 18. JP Mans, 19. Johan Retief, 20. HP Swart, 21. Edmund Rheeder, 22. Keagan Fortune, 23. Charl Pretorius.




