Die Luiperds is deur na die 2021 Curriebeker Eerste Divisie eindstryd nadat hulle Boland gemaklik met 52-29 geklop het op Olënpark vanaand.
Die fondasie van die Luiperds se kliniese oorwinning in vanaand se half-eindstryd was ‘n verwoestende eerste 20 minute waar hulle die wind uit Boland se seile geblaas het. Daarna het hulle sake goed bestuur en nie hulle voet van die pedaal af gehaal nie.

Pretorius se manne het die eerste 20 minute van die eerste helfte gedomineer en ‘n 21-0 voorsprong geneem. Drieë van Eugene Hare, Dries Truter en André Fouché het die tuisspan se tempo en vaart met punte beklemtoon.
Fouché se groot glimlag na sy drie en die Luiperds se derde een was tekenend van die gees in hierdie span vanjaar.
Dit was eenrigtingverkeer en van die Luiperds se beste spel nog in vanjaar se kompetisie soos hulle die gapings getref het en balbesit met klomp fases beheer het.
Foto’s: Wouter Pienaar
Truter en Hare was veral gevaarlik op die aanval en talle kere die opposisie se verdedigers onder druk geplaas. Die Luiperds het behoorlik in die Kavaliers se 22 geboer.
Dit was net weens ‘n fout na ‘n los aangee van skrumskakel, Shirwon Cupido, dat die Boland punte op die telbord in die eerste helfte kon sit. Die spoedige linkervleuel, Dylan Maart het die besoekers se eerste drie van die wedstryd gedruk.

Luiperds haker, Robey Leibrandt het ook na ‘n rolmaalbeweging gaan druk om die Luiperds met 28-5 in rustyd te laat ingaan. Hierdie voorsprong het ook in die tweede helfte verder gegroei toe vasskopstut, Sampie Swiegers oorduik om die telling na 33-5 te neem.
Danrich Visagie verdoel en neem die telling na 35-5 in die Luiperds se guns. Boland het in die tweede helfte meer vaart gewys en twee drieë gaan druk met Bjorkan Hendricks en Wilneth Engelbrecht was oorduik.
Die spel was meer los en Boland kon die telbord laat aantik. Swak dissipline en taktiese foute het Boland ook gekos en die Luiperds het nie hul beurt afgewag om hulle te penaliseer nie. 
Nog ‘n rolmaalbeweging en gepaardgaande drie vir die plaasvervanger haker, Gustav du Rand in die 63ste minuut was die spreekwoordelike spyker in Boland se doodskis. Die Luiperds moes wel die wedstryd met 14 manne klaarmaak nadat Hare vir siniese spel afgestuur is. Boland het nog plek vir twee drieë gehad na ‘n vinnige tikskoppie en hardlooprugby wat die regtervleuel, Andre Manuel, ‘n drie besorg het. 
Die Luiperds het nog twee drieë in die laaste 10 minute ingesamel om ‘n welverdiende vyftigtal te behaal. Opsommend het die Luiperds beter as ‘n span gespeel en as een man die taak verrig om ‘n plek in die eindstryd teen die Valke of Griffons volgende naweek te staan kom.





































