Christiaan Burke het nog lank nie van die oorwinningstrein afgeklim nie en stoom voort op die gholfbaan met nog ‘n oorwinning verlede week tydens die IGT Chase to #29 by die ERPM Gholfbaan in Boksburg.
Hierdie Potchefstroomse gholfspeler het die afgelope twee maande trofeë soos soetkoek ingeryg tydens die Bushveld Gholftoer en maak nou ook so in die IGT Chase.

In die Chase to #29-toernooi het Burke die toernooi Woensdag, 28 Julie met ‘n -7 algehele telling gewen en sy naaste teenstander met een hou geklop.
Dit was ‘n naelbyt einde vir Burke wat ondanks drie houe bo baansyfer in die laaste vier gate, steeds ‘n oorwinning kon behaal. ‘n 71 (-1) in die laaste rondte was goed genoeg vir Burke om die trofee te lig. Hy beaam dat dit ‘n uitdagende toernooi was, maar dat hy bly is na die oorwinning.

“Dit was die week baie moeilik as gevolg van die setperke wat hard en baie vinnig was. Andersins het ek baie lekker gespeel. Die beste aspek van my spel die week was my ysters (irons). Iets waaraan ek moet werk is my drywer en dan bietjie aan my setperkhoue.
Ek het as gevolg van daardie twee aspekte houe verloor,” noem Burke. Burke het ook op Woensdag, 4 Augustus die volgende IGT-toernooi in twee weke gewen met ‘n oorwinning by die Modderfontein Gholfklub met ‘n -4 telling. 



