Die geluid van die skeidsregter se eindfluitjie was nog nooit vir die Luiperds so lekker om te hoor soos Vrydagaand, 13 Augustus op ‘n koue en winderige Olënpark nie. Daardie skerp klank het ‘n naelbyt 19-18 Curriebeker Eerste Divisie bekersege vir die Luiperds teen die Griffons in ‘n fantastiese eindstryd bevestig.

Sekondes voor dit was die huilende geluide van ‘n sterk wind, sowel as die kenmerkende voltydsirene ook in die Luiperds se ore – met die Griffons op die aanval en gereed om die Luiperds se moontlike oorwinningspartytjie te bederf. Die Luiperds moes in hierdie laaste sekondes van verstreke tyd soos krygers verdedig en seker maak dat hulle ook nie ‘n strafskop afstaan met hulle een punt voorsprong nie.

Toe die Griffons in kontak die bal aanslaan, breek die spanning oor die hele veld en met die eindfluitjie is die emosies hoog in albei kampe. Die Luiperds spring op en af, gil, juig, gooi arms in die lug en omhels mekaar soos langverlore broers. Die Griffons ‘n prentjie van verdriet en mismoedigheid met spelers wat op die naat van hul rug lê en ander wat se oë vogtig raak – amper stamper na 80 harde minute.

Die Luiperds se eerste Curriebeker Eerste Divisie sege in ses jaar is danksy ‘n konsekwente en doelgerigte seisoen waar ‘n kombinasie van jong en ervare spelers puik rugby gespeel het. Die Luiperds het bo-aan die punteleer geëindig, net een wedstryd verloor en in die eindstryd bewys dat hulle die temperament het vir die groot verhoog.
Vrydag se eindstryd het natuurlik baie besprekingspunte. Die wedstryd was vol wip-wa oomblikke, fantastiese drieë sowel as twee geelkaarte en ‘n baie sterk wind wat skop so ‘n bietjie van ‘n lotery gemaak het.

Die Luiperds se heelagter, Duren Hoffman, skrumskakel, Riaan Genis en haker, Robey Leibrandt druk vir die tuisspan. Die Griffons veg van 19-6 agter met twee drieë van regtervleuel, Granwill Matthys en haker, Khwezi Mkhafu, wat sake naby hou in ‘n spannende tweede helfte. Die Luiperds onder kaptein en losskakel, Danrich Visagie, het ‘n paar baie belangrike skoppe pale toe oorgesit en volgens hom is die wen spesiaal.

“Dit was vir my taamlik emosioneel. Die wind het skoppe moeilik gemaak, maar ek het in die week ook baie in die wind geoefen, so ek het geweet dat ek in die prosesse kan vertrou, al was dit stresvol,” noem hy.
Luiperds hoofafrigter, André Pretorius is ook in die wolke na die oorwinning, veral omdat dit sy eerste bekersege op hierdie vlak saam die Luiperds is.
“Ons het hierdie seisoen hard gewerk en dit was ‘n groot verligting om na ‘n harde eindstryd te wen. “As afrigter beteken die wen vir my baie. Die ondersteuning van almal (my gesin, familie, vriende en die algemene publiek) het ook grootliks bygedra en ek kon voel almal staan hierdie seisoen agter ons.”





