SportSport

Fouché behaal persoonlike beste in die verspringput by Wêreldkampioenskappe

Potchefstroom Gimnasium se top atleet en verspringkampioen, Karmen Fouché, het die afgelope week by die o.20 Atletiek Wêreldkampioenskappe wat in Nairobi in Kenia gehou is, gewys dat sy onder die beste in die wêreld gereken kan word. ‘n Persoonlike beste sprong van 6.32 meter was egter nie genoeg om hierdie uitstaande atleet ‘n medalje in …

Potchefstroom Gimnasium se top atleet en verspringkampioen, Karmen Fouché, het die afgelope week by die o.20 Atletiek Wêreldkampioenskappe wat in Nairobi in Kenia gehou is, gewys dat sy onder die beste in die wêreld gereken kan word.

‘n Persoonlike beste sprong van 6.32 meter was egter nie genoeg om hierdie uitstaande atleet ‘n medalje in die verspringfinaal in die o.20 by dié kampioenskap te besorg nie.

Sy kan steeds trots wees dat sy dit op 18-jarige ouderdom reggekry het om die finaal te haal en met haar sewende plek onder die top 10 beste atlete in die wêreld gekom het.

Karmen en haar afrigter, Willem Coertzen.

Swede se Maja Askag het die goud gevat met ‘n massiewe 6.60 meter poging wat ook haar persoonlike beste is. Die vlak van die kompetisie was uiters straf en een fout of slegte dag kon al die voorbereiding en drome verpletter het.

Fouché het wel soos enige gesoute top atleet op die grondslag gefokus en geweet dat die res in plek sou val. Fouché het in die uitdunne met ‘n 6.10 meter sprong vir die finaal gekwalifiseer en toe ‘n paar stappe verder gegaan in die finaal en onder hope druk sommer haar vorige persoonlike beste van 6.29 meter oorskry.

Haar afrigter, die voormalige Olimpiese tienkamp atleet, Willem Coertzen, was in sy noppies met sy atleet se prestasie by haar eerste wêreldkampioenskap.

Karmen Fouché tydens die o.20 Atletiek Wêreldkampioenskappe. Foto’s: Verskaf

“Ek is baie tevrede met Karmen se vertoning. Om ‘n sewende plek by ‘n Wêreld Junior atletiekkampioenskap te behaal is regtig baie spesiaal. “Ons het vir drie maande voor die byeenkoms geen kompetisies gehad nie, so dit was ook ‘n moeilike aspek. Ek moes scenario’s in Potch voor die byeenkoms skep sodat sy reg is vir ‘n kompetisie omgewing. In daardie aspek het sy baie goed gedoen om ‘n persoonlike beste te kon spring. Veral na ‘n baie lang jaar waar sy al omtrent 13 maande lank oefen,” noem Coertzen.

“Karmen het net bewys watter tipe atleet sy is dat sy net presteer het en die volgende trappie getrap het. Sy het ‘n baie sterk kop op haar skouers. Dit is ‘n plesier om saam met haar te werk. Ek is baie trots op haar,” vertel Coertzen.

Related Articles

 
Back to top button