
‘n Aansteeklike rugbypassie is wat Joe Seerane, die Luiperds se Cravenweek agterlynafrigter en onderwyser by Ferdies, besonders maak.
Dit is ‘n groot eer vir Seerane om aan die stuur van ‘n Luiperds senior Cravenweekspan te wees aangesien hy voorheen met die o.16 Grant Khomospanne gewerk het en ‘n pad saam die jong rugbyspelers te kon stap. Seerane het self as skolerugbyspeler Cravenweekrugby vir Limpopo gespeel en weet wat dit verg om bo uit te kom.
“Dit is ‘n groot voorreg omdat ek vir die eerste keer ‘n Cravenweekpan afrig. Ek het voorheen die o.16 Grant Khomo span afgerig voorheen. Ek is ook die hoë prestasiebestuurder, so dis lekker om die seuns deur die sisteem te kon neem. Dit is lekker om te sien hoe groei die seuns van o.15 tot reg deur op senior skolevlak.”
“Dit was ‘n moeilike jaar, maar ons doen ons beste dat die seuns speelkans kry en ook erkenning kry. Die eerste wedstryd teen die Griffons was vir my lekker om te sien hoe hulle alles op die veld gee. Dit is herinneringe wat ek nie sal vergeet nie. Ek koester dit,” noem hy.
Hierdie onderwyser en kranige rugbyafrigter het ‘n lang lys prestasies op sy CV wat hom die ongetwyfelde kandidaat vir die o.18 Luiperds Cravenweekspan gemaak het. In 2012 was hy deel van die SA studentespan en die 7’s groep, en in 2013 was hy deel van die SA President’s span wat beide internasionaal meegeding het. Hy was ook in 2012 die NWU-Pukke se eerstespan onderkaptein. Steeds maak hy seker hy kan byhou by die jonges wat hy afrig en neem deel aan klubrugby.
Hy was van 2016 tot 2018 nog deel van die Letaba eerstespan. Op provinsiale vlak het hy in 2014 vir die Grens senior Curriebekerspan gespeel en ook in 2015 vir die Luiperds Amateur span. Om te wys hy is in staat om sy vaardighede op die sportveld oor te dra aan ander, het hy sy Vlak 1 en 2 IRB afrigting voltooi en reeds in 2015 formeel as afrigter opgetree.
Hy het al spanne by sy alma-mater, Hoërskool Merensky, afgerig, die Luiperds, NWU en Bergsig Akademie. Hy is ook al sedert 2007 betrokke by Luiperdsrugby op een of ander terrein, hetsy speler, afrigter of organiseerder.

Seerane het in 2019 by Ferdinand Postma begin skoolgee en sommer uit die staanspoor as eerstespan rugbyafrigter sy stempel afgedruk met ‘n kleinskole rugbytitel. Die leerders is gaande oor Seerane wat IGO en LO gee. Hy het ‘n besonderse manier om met die jongmense te werk.
“Ek probeer om ‘n groot liefde vir rugby by Ferdies te kweek. Dit is my passie om dit wat ek geleer het oor te dra aan die kinders. Ek probeer om ‘n balans tussen akademie en sport vir hulle te handhaaf. Dit wat ek na die skool toe bring kom van al my ervaringe as speler en afrigter af. Ek is ‘n trotse Ferdie,” vertel hy.