SportSport

Geskiedkundige wen vir Gimmies se eerste span teen Grey Kollege

Grey Kollege se eerste span is vir 111 lopies op die Gimmie Oval uitgeboender met Gimmies se draaiers wat die skade aanrig.

‘n Skitterende boulvertoning op ‘n moeilike kolfblad het Potchefstroom Gimnasium se eerste span gister (Saterdag, 18 September) na ‘n eerste sege teen Grey Kollege van Bloemfontein geneem.

Grey Kollege se eerste span is vir 111 lopies op die Gimmie Oval uitgeboender met Gimmies se draaiers wat die skade aanrig. Junior Mathe se 4/43 is maar een van Gimmies se staatmakers hier.

Hierdie 86 lopie oorwinning is een van die hoogtepunte vir Gimmies Krieket in hierdie vriendskaplike stryd teen een van SA se bekendste skole. Gimmies het eerste gekolf en 197/8 aangeteken wat op hierdie kolfblad ‘n kompeterende telling kon wees.

Martin Bullock met 37 (42) het die hoogste telling vir Gimmies aangeteken. Vroeër het Junior Mathe (21 van 59 balle) en paaltjiewagter, Wian Herbst (22 van 71 balle) ‘n relatiewe fondasie met ‘n openingsvennootskap van 53 lopies gelê. Grey se draaibouler, Stefan Nel (3/34) het heelwat probleme vir Gimmies veroorsaak.

Ian van der Merwe was ook in die kol met sy 1/20 in 10 boulbeurte. Gimmies het geweet dat hulle vroeg ‘n paaltjie moes neem en snelbouler, Johan Mahne kry dit reg met sy derde bal van sy eerste boulbeurt – ‘n Fantastiese bal wat hoog spring en die kaptein, Neels Volschenk (0) se kolf tref met Louis Fourie wat die kans in die glippe benut.

‘n Paar balle daarna is Armand Fourie ook skoolgeboul met ‘n puik inswaaier van Mahne.

Die linkerarm draaier, Mathe se vier paaltjies kort na mekaar kelder vir Grey verder. Eweskielik is Grey op 42/6 en kniediep in die moeilikheid. Herbst se werk agter die paaltjies speel ook grootliks ‘n rol hier met ‘n fantastiese stonk om van Hayden Tolmay vir ‘n nulletjie ontslae te raak.

Foto’s: Wouter Pienaar

Joen Viljoen met 38 van 37 balle probeer sy bes om Grey se kanse te red maar die draaier, Ruan Lotz (2/19) neem sy paaltjie. Martin Bullock vat die laaste paaltjie met ‘n BVP beslissing en toe kon die vreugdevure behoorlik brand.

Gimmies se eerste span afrigter, Wian Lubbe, was dankbaar oor die oorwinning en glo dat hierdie tipe wedstryde teen top skole net krieket in die algeheel by die skool en die provinsie sal verbeter.

“Dit beteken baie vir ons skool en ook vir Noordwes Krieket. Die wen het vir ons seuns bewys dat ons nooit hoef terug te staan teen die top skole in die land nie. Ons streef daarna om jaarliks teen die beste skole in die land te kompenteer en die wen teenoor Grey College was die begin van ons skool se mikpunt om onder die top 10 skole in die land te kom. Ons harte loop oor van dankbaarheid vandag.”

Gimmies se harde werk na die top 10 plek gaan voort komende week met ‘n toer na PE waar hulle wedstryde teen van die Oos-Kaap se top skole soos Hudson Park , Graeme College, Grey High en Pearson College sal speel.

*In die o.14, o.15 en tweede span wedstryde waar Gimmies ook teen Grey Kollege gespeel het, het Grey in daardie wedstryde die wen in die sak gekry. In al hierdie wedstryde het Gimmies wel nie teruggestaan nie en hulle harte uitgespeel.

Verkorte uitslae:

0.14: Gimmies verloor met 8 paaltjies

0.15: Gimmies verloor met 54 lopies

Tweede span: Gimmies verloor met 3 paaltjies.

Hoogtepunte van die eerste span wedstryd is hier beskikbaar: https://www.pitchvision.com/#/pvm/134364

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button