‘n Uitstekende wenseisoen is met toekennings beloon tydens Potchefstroom Dorp Rugbyklub se prysuitdelingsfunksie vir 2021 wat op 29 Oktober by die klubhuis plaasgevind het.
Foto’s: Wouter Pienaar
Die huidige Neserligakampioene het hulle top spelers vereer met skrumskakel, Danie van der Merwe, wat in sy eerste seisoen as Potch Dorp speler, die Speler van die Jaar- toekenning verower het.
“Dit was ‘n groot voorreg om vanjaar deel te kon wees van Potch Dorp Rugbyklub en hulle op die veld te kon verteenwoordig. “Hulle het ons baie vinnig ingetrek aan die begin van die seisoen en ons laat deel voel van die span, wat vanjaar beslis tot ons sukses bygedra het. Daar is ‘n klomp uitstekende spelers wat net sowel die toekenning kon kry, maar ek is voel geëerd dat ek hierdie jaar die toekenning kon kry,” vertel Van der Merwe.
Die losvoorspeler, Marcel Burger, is ook vir sy konsekwentheid en passievolle spel met twee toekennings beloon, naamlik die voorspeler van die jaar en die spelers se speler van die jaar. Die losskakel, Luan Murray, is as die agterspeler van die jaar aangewys.
Gladwin Mumakwe is as die tweede span se speler van die jaar aangewys. Die vaskopstut en klubman duisend wat al vir 11 jaar deel van Potch Dorp is, het ‘n spesiale toekenning vir sy diens ontvang.
Ruan Janse van Vuuren is as die klubman van die jaar aangewys, terwyl André Grobler met die 7’s Speler van die Jaar-toekenning vereer is.
2021 sal beslis as een van die beste jare in Potch Dorp se onlangse geskiedenis bestempel kan word, waar hulle op en van die veld hulle passie vir die spel en klubrugby in die algeheel bewys het.













