SportSport

Klubman se nalatenskap lê wyd op Potch se rugby en krieketvelde

Potchefstroom Dorp Krieketklub het hom onlangs behoorlik vereer toe hulle die klubhuis op Witrand se Krieketveld na hom vernoem het.

Lojaliteit is iets wat die rugby en krieketliefhebber en bekende Potchefstroom Dorp klubman, Jan Weideman, met trots in sy hart dra.

“Ek is intens lojaal en ek glo ek het die godgegewe talent gekry om inligting te kan oordra en goed om my waar te neem. My taak is om seker te maak dat spelers voel dat hulle behoort en die beste uit hulle te kry.”

“Oom Jan” soos baie spelers hom ken, is al sinoniem met Potch Dorp se rugby en krieketklubs vir sowat 30 plus jare, waar hy as afrigter talle spelers sien kom en gaan het.

Jan Weideman gaan na sowat vyf dekades in Potch, na Alldays in Limpopo verhuis. Die lys is legio van spelers wat onder Weideman se afrigting op skool en klubgebied, ‘n liefde vir sport geleer het. Foto: Wouter Pienaar

Potchefstroom Dorp Krieketklub het hom onlangs behoorlik vereer toe hulle die klubhuis op Witrand se Krieketveld na hom vernoem het.

“Dit is nogal ‘n groot eer en dit was emosioneel, veral omdat dit nie iets is wat met almal gebeur nie. My doel was nog altyd om die spel te dien en ‘n liefde vir die spel by ander te kweek,” noem hy.

Weideman se vingerafdruk is in Potchefstroom nie net op klubvlak gelos nie, maar op skool en universiteitsvlak het hy ook beslis sy merk gelos. Opsommend is Weideman nog altyd op en van die veld af ‘n dienaar van sport. Weideman was in Laerskool Mooirivier en het graad 7 aan Laerskool M.L. Fick voltooi. Hy het sy matriek aan die destydse Hoër Handelskool JJ Pienaar voltooi nadat hy tot graad 9 aan HTS Potchefstroom skoolgegaan het.

Weideman het onderwys aan die PUK studeer en toe sy pad weer terug by HTS gevind waar hy vanaf 1984-1998 skoolgegee en talle spanne afgerig het. Dit is hier waar sy afrigtingmetodes gevorm is in samewerking met Chris Jacobs en Louwtjie van der Walt in ‘n paar sterk jare van skolerugby by HTS.

“Van my lekkerste jare was daar by HTS saam met Chris en Louwtjie, met Jim Cameron as hoof. Hulle het net presies geweet hoe om met die laaities te werk en die beste uit hulle te kry. Ek het baie by hulle geleer,” noem Weideman.

In hierdie HTS groep was daar bekende gesigte soos Marius Hurter, Jannie Brooks sowel as Leon Boshoff wat onder Weideman en kie gespeel het.

Weideman se rugbyroete sou hom toe na die Puk toe neem waar hy weer baie kennis by die legendariese Percy du Toit opgebou het, wat toe die eerste span afgerig het. Weideman het Ibbies afgerig en die span vir ‘n hele jaar onoorwonne gebrei. In sy tyd by die Puk het hy ook groot waardering vir James Stoffberg en Sakkie Raath, wat hy as van sy groot mentors sien.

“Percy du Toit, James Stoffberg en Sakkie Raath het almal so ‘n groot invloed op my afrigtingstyl gehad. Ek het myself altyd gesien as iemand wat goed kan waarneem en dan implementeer,” noem hy.

Op krieketvlak het Weideman al sedert die 90’s by Potch Dorp Krieketklub sy naam as krieketafrigter gemaak, met talle topspelers onder sy vlerk. Weideman het ook al in die 80’s krieket vir die klub gespeel. 

“Kyk, in daardie dae moes van Noordwes se spelers ook gereeld klubkrieket speel. In daardie tyd het manne soos Hendrik de Vos, HP Prinsloo, Henderson Springer en nog ander almal vir Potch Dorp gespeel. Ek het nog altyd seker gemaak dat daar ‘n goeie kaptein in die span is, want met die regte leiding speel almal in die span beter krieket. Dit gaan baie keer nie oor die beste speler nie, maar die regte speler vir die kapteinsposisie,” verduidelik hy.

“Baie mense gebruik die woord “Legend” te maklik, maar vir my is Sias Willemse ‘n werklike legend. Hy was net so ‘n fyn kenner van die spel. ‘n Mens kon met hom praat en heeldag na sy kennis luister.”

Jan Weideman

Dit is ongetwyfeld dat Weideman die spel nog al die jare gedien het vir die liefde daarvan. In sy tyd langs die krieketveld het hy ook al talle herinneringe wat by hom bybly.

“Jacques Kallis het sy eerste provinsiale wedstryd op Witrand Krieketveld gespeel. Malcolm Marshall (oud-Wes Indiese Eilande snelbouler) was ook al hier,” noem hy. Vir Weideman lê die hoogtepunte van sy betrokkenheid in sport nie noodwendig net oor die trofeesukses nie, maar eintlik om te sien hoe spelers hulle potensiaal bereik. “Sport leer ‘n mens van dissipline en spanwerk, en dit is so belangrik in die lewe.

“Afrigting is maar eintlik ‘n opvoedingstaak, so ek voel my passie om te onderrig gaan hand aan hand met afrigting.” Die 61-jarige Weideman het buiten afrigting ook nou saam met Noordwes Krieket gewerk en as visepresident gedien tot hy in 2018 sy amp neergelê het. “Onder presidente soos Mickey Gordon, Fanie Gericke en Archie Pretorius het NW Krieket uitstekend gegroei. Hulle het die spel alleenlik gedien. So ook Jacques Faul en Heinrich Strydom wat as hoof uitvoerende beamptes ook baie goeie werk gedoen het,” onthou Weideman.

Na ongeveer vier dekades op die sportveld gaan Weideman binnekort na sy broer Johann, in Alldays, Limpopo trek.

“Ek beplan om Potch so teen Januarie/Februarie amptelik te verlaat. Dit gaan lekker wees om ‘n nuwe begin daar op die plaas en in die jagbedryf te maak,” noem hy. Al gaan Weideman nuwe koers Noord soek, sal sy nalentenskap en naam vir ewig sinoniem in Potchefstroom bly.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button