
Marco Jansen, die voormalige Gimmie krieketkaptein, het vandag sy droom bewaarheid toe hy sy toetsdebuut vir Suid-Afrika teen Indië in die eerste toets op Supersportpark in Centurion gemaak het.
Hy het ook die geleentheid gekry om teen die Indiese kolwers in hulle eerste beurt te boul en het syfers van 17-4-61-0 behaal.
Al het Jansen nie ‘n paaltjie gekry nie kan hy steeds trots wees op sy vertoning teen ‘n sterk Indiese span op ‘n goeie kolfblad vir die kolwers.

Jansen het in die veld ‘n moeilike vangkans verbrou, maar het meerendeels homself goed van sy taak gekwyt en sal verder streef om sy eerste toetspaaltjie op dag 2 te neem.
Op sosiale media was sy voormalige afrigter by Gimmies, Wian Lubbe, in die wolke oor sy debuut veral aangesien hy ‘n groot rol in Marco se ontwikkeling as krieketspeler op skool gespeel het.
“Vandag is ek so trots op jou Marco!!! Jou droom het vandag gerealiseer!! Jy is ‘n Protea!! Dankie dat jy altyd so plat op die aarde is en altyd bereid is om die seuns te help en terug te gee!! Sterkte Big M!,” het Lubbe in ‘n Facebook plasing genoem.
Jansen, ‘n kranige linkerarm snelbouler, het ook sy eersteklasdebuut vir Noordwes in 2018 gemaak en is ‘n trots Noordwes produk.
Hy speel tans sy krieket vir die Warriors (Oos-Kaap) en is ook ‘n gekontrakteerde speler vir die Mumbai Indians in die IPL.
Steeds is daar geen twyfel dat sy Proteasdebuut een van sy trotste oomblikke in sy jong loopbaan is.