SportSport

Geen verrassing dat talentvolle Marco vir Proteas blom

Na sy eerste twee toetse het hy van ‘n relatiewe onbekende in internasionale krieketkringe in ‘n speler verander wat lyk of hy op toetsvlak behoort.

Op Werkersdag (1 Mei) is die Proteas se nuutste snelbouler-vonds, Marco Jansen, as een van ‘n tweeling gebore. Dit is dalk glad nie toevallig dat Marco, ‘n voormalige Potch Gimmie krieketkaptein, op hierdie dag gebore is nie, want hy is werklikwaar ‘n harde werker wat deur die jare ure se oefening ingesit het om sy natuurlike talent te ontgin.

Jansen, oorspronklik van Klerksdorp, het sy laerskoolloopbaan aan Laerskool Goudkop voltooi. Hy het tydens sy hoërskoolloopbaan aan Potchefstroom Gimnasium saam met sy tweelingbroer, Duan, die skolekrieketkenners in NW laat regop sit.

Marco Jansen tydens die eerste toets teen Indië. Foto: Gallo Images

“Die blootstelling in Potch op sportgebied sowel as akademie by Gimmies was een van die groot fakore in ons besluit destyds om hulle albei daar in te skryf. In Potch was dit ook makliker om gereeld hulle wedstryde te kon bywoon,” noem hul trotse pa, Koos.

Net soos Marco, is Duan ook ‘n linkerarm snelbouler en regterhandse kolwer en speel ook beroepskrieket. Duan draf vir die Noordwes Dragons uit, terwyl Marco vir die Warriors in die Oos-Kaap speel. Marco het in 2018 se eersteklasdebuut vir Dragons gemaak en van daar af net vorentoe gekyk.

Marco se reis na die Proteas toetsspan het wel baie vinniger vir hom as sy tweelingbroer gebeur toe hy sy debuut op 26 Desember 2021 teen Indië op Supersportpark in Centurion gemaak het.

Vir Duan was dit ‘n trotse oomblik toe hy hoor dat Marco sy toetsdebuut sou speel.

“Ons wou net regtig gehad het dat hy goed doen. Dit is goed om te sien dat hy goed speel en net so aanhou. “Hy weet wat hy op die veld moet doen en dat hy sy deel moet bring. Hy het bewys dat hy daar hoort,” meen Duan.

Marco is die langste Protea in die geskiedenis en ook die eerste Proteaspeler wat in die nuwe millennium gebore is.

Marco Jansen vier ‘n paaltjie vir die Proteas. Foto: Christiaan Kotze

Die breë krieketgemeenskap wat dalk nie Marco se puik skoleloopbaan en vorm op SA o.19-vlak gevolg het nie, sou dalk gedink het dat hy te jonk en onervare is om al op 21 met net 21 eersteklas wedstryde agter sy blad op die hoogste vlak te kan speel.

Hoe het hierdie 2.06 meter veelsydige speler hulle nie verkeerd bewys nie?

Na sy eerste twee toetse het hy van ‘n relatiewe onbekende in internasionale krieketkringe in ‘n speler verander wat lyk of hy op toetsvlak behoort.

Sy eerste paar boulbeurte was weens die senuwees, nie van sy beste nie, maar toe hy eers sy eerste toetspaaltjie kry, kon die regte Marco sy stempel afdruk. Dit het gelyk of ‘n berg van sy skouers af is.

Wat in Jansen se guns tel is dat hy honger is om te presteer, hy verskeidenheid met sy linkerarm snelballe bring, die bal kan swaai en ‘n goeie opslagbal weens sy lengte kan lewer. Sy 4/31 en 3/67 in die tweede toets teen Indië op die Wanderers het ‘n groot rol gespeel om sy land na ‘n oorwinning te stuur.

Na twee toetse spog hy met boulsyfers van 12 paaltjies teen ‘n gemiddeld van 18.50. Hy het ook ‘n paaltjie met elke 33 balle geneem. Glad nie sleg teen die nommer een toetsspan in die wêreld nie.

In die Wanderers-toets het hy ook nie teruggestaan nie en in ‘n vurige tweestryd met die Indiese snelbouler, Jasprit Bumrah, ‘n paar woorde gewissel – nes ‘n snelbouler maar van tyd tot tyd doen.

“As ouer is ek ongelooflik trots op hom. Ons was as familie ten tyde van sy eerste toets in die Wildernis met vakansie en het sy debuut op die TV gevolg,” noem sy pa. “Ons almal het altyd gehoop en geglo dat albei die seuns vir SA en die Proteas sal speel, al is die daar baie kompetisie vir plek in die span. Marco het vinniger geleenthede gekry en dit aangegryp. Ek altyd geweet, al was hy senuweeagtig, dat hy sou goed doen,” meen sy pa.

Related Articles

Back to top button