Die Willows gholftoernooi was hierdie jaar gedurende die Paasnaweek weer ‘n voortreflike byeenkoms. Die komitee van die Potchefstroom Buiteklub het die toernooi aangebied.
Plaaslike gholfspelers en Volkie-onderwysers, Mighael de Beer en Andries Huisamen het die toernooi gewen. Die formaat was van so aard dat spelers hulle tellings elke dag moes inlees en dan elke speler se hoogste en laagste voorgee (handicap) indeks bymekaargetel en gedeel is.

“Ons was albei ‘n vier voorgee, maar vir hierdie toernooi was ons voorgee ‘n drie. Ons het drie goeie rondtes aanmekaargesit. Weens die reën was die baan bitter moeilik en baie nat. Dit was die vierde jaar wat ons gespeel het en die vorige jare het ons net buite die pryse geëindig. Die toernooi was baie goed georganiseer,” noem De Beer.
Foto’s: Hein Papenfus en Potchefstroom Buiteklub
Die toernooi het Donderdagmiddag met die gebruiklike ‘Par 3’ kompetisie afgeskop. Terwyl die manne ernstig gholf gespeel het, het die mammas en kinders tydens ‘n ‘Easter Egg Hunt’ paaseiers gesoek dat die stof so staan.
Dit is die eerste keer ooit en sal in die toekoms ook deel van die pret en plesier van die Willows-toernooi wees. Die Par 3 kompetisie se Nett en Gross-afdelings is onderskeidelik deur Pieter van Greunen (wat nie hierdie jaar aan die Willows-toernooi deelgeneem het nie) en dus die Nett Masters baadjie moes afstaan aan Anton van Rooyen (ere-president van die Potchefstroomse Buiteklub) en Christy Raper van Royal Oak Country Club, wat vir die duur van die toernooi die Gross Masters baadjie gedra het.

Selfs die koue en nat weer het nie ‘n demper op die ongelooflike atmosfeer geplaas wat tydens hierdie toernooi die gholfbaan oorheers het nie. Die Willows-toernooi het nou al reeds oor die jare sinoniem geraak met gholf uit die boonste rakke en spelers van heinde en verre wat aan die gesogte toernooi kom deelneem. Vanjaar was geen uitsondering nie.
Alhoewel spel Sondag deur reën ontwrig is, het die toernooi Maandag op ‘n hoogtepunt afgesluit met prestasies van die plaaslike lede as volg:
‘Hole in One’ (op nommer 17) – Ferdi Otte
‘Best Dressed’ wenners – Hein Papenfus en Wiehan Strydom;
Algehele toernooi wenners – Mighael de Beer en Andries Huisamen ‘
Hamper’ wenner – plaaslike ‘caddy master’ Jerry Molefi.


Die komitee, bestuur en personeel van Potch Buiteklub is inderdaad bevoorreg om ‘n toernooi van hierdie kaliber te kan aanbied en beplanning vir volgende jaar begin reeds. Die Buiteklub bedank ook al die borge vir hulle ondersteuning en betrokkenheid.













