SportSport

Goue oomblik vir Broodryk by Twee Oseane-ultramarathon

"My familie en veral my man het my ook ongelooflik gemotiveer. Hy is my rots en ek het die een spesiaal vir hom gedoen.”

Die immergewilde Twee Oseane Ultramarathon was inderdaad ‘n hoogtepunt vir die Potchefstroomse senior lektor in menslike bewegingskunde, dr. Adele Broodryk, toe sy ‘n goue medalje verwerf het vir haar top 10-uitslag Sondag, 17 Maart.

Broodryk (Murray & Roberts Atletiekklub) het ‘n sesde plek in die vroue wedloop van 56 kilometer in ‘n briljante tyd van 3:47.23 behaal.

Hierdie NWU dosent se doelwit was om die top 10 te behaal en danksy haar resies-strategie waar sy haar doelwitte op die afsnypunte behaal het, kon sy ‘n konstante spoed in hierdie uitdagende wedloop hou.

Broodryk het haar eerste 5km in 19:14 voltooi en die halfpadmerk in 1:50:27 oorgesteek. Wat indrukwekkend is, is dat sy die laaste 14km dieselfde pas gehou het om dit in 58:34 sterk te eindig.

“Ek is ekstaties oor my 6de plek vir my eerste Twee Oseane Ultramarathon. Ek het ingegaan met ‘n plan volgens die roete. Die eerste helfte van die Twee Oseane is ‘n vinnige wedloop en as jy te vinnig ingaan, kan dit jou later negatief kos. Ek het presies uitgewerk hoe vinnig ek elke 5 tot 10km moet hardloop met die inrekening van my swak en sterkpunte om die eindtyd te haal,” noem sy.

Dr. Adele Broodryk op pad na haar sesde plek.

Die bekende marathon spesialis en SA Olimpiese atleet, Gerda Steyn, het die ultramarathon in 3:29.43 gewen om ‘n nuwe rekord op te stel. Natuurlik is so ‘n ultramarathon nie kinderspeletjies nie en Broodryk moes skouer aan die wiel sit in die laaste 14 kilometer om haar doelwit te bereik.

“Wanneer jy sopas ‘n volle marathon (wat baie uitdagend was met die twee groot bulte) bemeester het, dan lê daar nog ‘n hele afstand oor om te voltooi,” meen sy.

dele Broodryk het in die 2022 Twee Oseane Ultramarathon-wedloop wat Sondag, 17 April gehou is, ‘n puik sesde plek behaal en was die eerste Potchefstromer oor die eindstreep. Foto: Action Photo SA

“Dit was regtig net ‘n voorreg om met so ‘n kompeterende groep te hardloop. Top drie was die groot droom, maar toe ek die veld sien, toe weet ek dit gaan nie maklik wees nie. Die resultaat bevestig absoluut die tyd en harde werk wat ingesit is, en ook dat ek op die regte spoor is met my oefenplanne,” noem sy vol selfvertroue.

Volgende op Broodryk se horison is die Spar Women’s wedloopreeks wat in Mei afskop ‘n paar landloop byeenkomste sowel as die groot en immergewilde Comrades Marathon. “Ek en my klub werk vir ‘n top 10 plasing. Die klub gee uitstekende ondersteuning wat al die resies geleenthede moontlik maak.”

Broodryk woon nou al om en by 14 jaar in Potchefstroom nadat sy hier studeer het. Sy het in Carletonville grootgeword, maar noem dat sy nog altyd deel voel van Potch. Hierdie kranige atleet, wat ook die eerste Potchefstromer oor die eindstreep is, noem dat die Potchefstroomse gemeenskap se ondersteuning haar deurgedra het.

“Ek het vir myself deur die wedloop net verseker hoe hard ek gewerk het en dit kan doen. Ek het soveel ondersteuning van ons mense en my kollegas gekry, ek wou julle verseker trots maak. My familie en veral my man het my ook ongelooflik gemotiveer. Hy is my rots en ek het die een spesiaal vir hom gedoen.”  

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button