Die jaarlikse Volkie-Gimmie Classic Clash sportnaweek gaan weer na drie jaar in sy volle glorie hierdie komende naweek vanaf 27-28 Mei by Hoër Volkskool Potchefstroom plaasvind.
Gisteroggend (Maandag, 23 Mei) is die Volkie-Gimmie-sportweek en gepaardgaande feestelikhede amptelik tydens ‘n funksie by die Snowflake gebou ge-open.
Foto’s: Wouter Pienaar:
Hoofde, spankapteine, lede van die beheerliggaam, sportorganiseerders, sowel as borge was by hierdie geleentheid betrokke.
Vir Volkskool is dit ‘n besondere eer om in hul 100ste bestaansjaar hierdie byeenkoms aan te bied wat die hele Potchefstroom tot stillstand bring.
Die hoof van Hoër Volkskool Potchefstroom, mnr. Terry Nicholenas, het genoem dat dit wonderlik is dat daar twee sterk en presterende Afrikaanse skole in een dorp is en dat Potchefstromers die skole moet omarm.

“Dit is ‘n voorreg en eer om die Classic Clash aan te bied. Dit is elke jaar ‘n hoogtepunt op die dorp se kalender. Daar is niks fout met gesonde kompetisie tussen die twee skole nie, maar dit is nie nodig dat daar ‘n fete moet wees wat skole benadeel nie. Dit is belangrik dat Gimmies en Volkies saamstaan sodat die publiek albei Afrikaanse skole kan ondersteun. Hierdie Volkie-Gimmie tradisie moet tot in lengte van dae aanhou,” het hy genoem.
Mnr. Willie van der Merwe, hoof van Potchefstroom Gimnasium, gaan vanjaar in sy eerste Classic Clash as hoof betrokke wees.

“Potchefstroom is bevoorreg om twee puik Afrikaanse skole te hê wat met mekaar kan kompeteer. Dit is vir my ‘n voorreg om deel te kan wees,” het Van der Merwe bygevoeg.
Die Gimmie-Volkie-aksie is nie net tot die sportveld beperk nie, aangesien die Potchefstroom Sakekamer ook saam met die skole hande vashou om hierdie Clash na die volgende vlak te neem.

Die historiese Eikelaan gaan ook hierdie week met linte versier word om albei skole se kleure uit te beeld en as herinnering te dien vir die groot naweek wat kom.
Juanita Smit, voorsitter van die Potchefstroom Sakekamer, noem dat dit belangrik is dat besighede en die plaaslike gemeenskap saamwerk om die Gimmie-Volkie naweek ‘n sukses te maak.
“Dit Is ongelooflik om die gees van samewerking tussen die twee skole te sien. Dit is vir ons as die Sakekamer ‘n groot vooreg om betrokke te wees by hierdie naweek. Dit is belangrik om die historiese Eikelaan te beskerm en ook op dieselfde tyd ‘n tradisie te kan begin asook terug te kan gee aan Gimmies en Volkies,” het Smit genoem.









