Volkies se eerste seunshokkiespan het hulle tuisveldvoordeel fantasties vanmiddag (Vrydag, 27 Mei) teen Gimmies se eerstes gebruik om 1-1 gelykop te speel.
Vir Volkies, wat die afgelope 10 jaar aan die verloorkant was, was hierdie vertoning en uitslag omtrent soos ‘n oorwinning.
Foto’s: Wouter Pienaar
Die twee Corné’s, Prinsloo en Nel, het albei baie goeie wedstryde vir Volkies gehad en hulle op die voorvoet met hulle aanvalle gehou. Gimmies se speler van die wedstryd was ongetwyfeld hulle doelwagter, Wian Landman, wat keer op keer vir Volkies gestuit het.
Gimmies se eerste span is die NWU Prestigereeks-wenners en was definitief die gunsteling om weer vir Volkies ore aan te sit, maar die grasbaan en Volkies se strategie het sake vir die seuns in blou moeilik gemaak.
Volkies het meeste van die balbesit in hierdie wedstryd gehad en met vinnige en aggressiewe hokkie die spel in die eerste helfte beheer. Hulle het ook goed gebruik gemaak van lang hoë balle om aanvalle te loods en gebiedsvoordeel te behou.
Gimmies het teen die verloop van spel in die derde kwart die eerste doel aangeteken, toe hulle na goeie druk vanuit ‘n strafhoekie die doelhok getref het. Na ‘n gespartel in die sirkel kry Damian Charslund die laaste hou in om Gimmies voor te laat loop.
Volkies kry wel hulle geleentheid na goeie balbesit in die vierdie kwart toe ‘n strafdoelkans na Volkies kaptein, Josua Kotze se kant toe gaan.
Kotze slaan die bal verby Landman se regterkant om die telling 1-1 te maak. Dit was welverdiend dat Kotze die doel kry, aangesien hy vanuit die middel van die veld Volkies se span-aanslag gelei het.
Gimmies het hul bes probeer om ‘n laaste doel in te kry om Volkies se partytjie te bederf, maar toe die eindfluitjie blaas, was dit Volkies wat die gelykop-uitslag soos ‘n wen vier.

























