Vir die eerste keer in geskiedenis het daar op Donderdag, 26 Mei ‘n Volkies-Gimmie rolbalstryd tussen onderwysers, ouers en lede van die beheerliggaam plaasgevind.
Op die Potchefstroom Buiteklub se rolbalbane, het Volkies gewys wat in hulle steek met ‘n oorwinning van 8.5 teenoor Gimmies se 3.5.
Spanne het al in die week begin oefen om seker te maak dat hulle hierdie spel goed bemeester vir die amptelike stryd onder die spreiligte.
Daar was ‘n gesellige atmosfeer tussen die twee skole op die baan wat vir baie pret en aksie gesorg het. Braaivleisvure is aangesteek en musiek sowel as krete van aanmoediging het die lug gevul.


Volkies het in hulle Eeufeesjaar die beker gelig en dit het dalk net die platform gestel vir Volkies se netbal en rugby-oorwinnings wat gedurende die Volkie-Gimmie Classic Clash plaasgevind het.
Volgende jaar maak die skole weer so – mag hierdie tradisie nog vir jare ‘n lekker lusmaker wees vir die sportaksie wat oor die naweek plaasvind en Potchefstromers bymekaar bring.














