As jy provinsiaal muurbal en tennis gespeel het en ‘n persoonlike afrigter by ‘n ‘gym’ was, is rugby net nog ‘n pyl in jou sportkoker.
“Ek het ‘n groot passie vir sport, daarom het ek menslike bewegingskunde aan die NWU gaan studeer.”
So vertel Alwyn Venter, hoofafrigter van Emmies se eerste rugbyspan. Dié 31 jarige pasgetroude onderwyser kom van die klein dorpie, Volksrust. Hy is nederig, vriendelik en dalk bietjie op sy senuwees om met die koerant te praat.
Tog is sy passie vir sport en liefde vir die kinders meer as duidelik.
“Ek is hier vir die kinders, nie om ander mense te beïndruk nie. Ek wil hê hulle moet voortgaan met rugby. Wanneer hulle hier klaar is moet hulle ‘n liefde vir die spel hê,” verduidelik hy.
Sy eie ervarings as speler op skool het sy filosofie rondom afrigting gevorm. “Op laerskool het ek stut gespeel, ek was maar groot en bietjie ‘chubby’ maar teen die tyd wat ek in die hoërskool gekom het, het ek baie gewig verloor. Toe moes ek skielik iewers in die agterlyn inpas,” verduidelik hy.
Hy vertel dat hy nie noodwendig die vaardighede gehad het om in die agterlyn in te pas nie. Daarom is hy gefokus daarop dat al sy spelers die volle spektrum van vaardighede moet aanleer. “As jy kyk na Nieu-Seeland. Al hulle spelers, ongeag van hul posisie, het goeie hantering en hardloop goed met die bal in hand. Dit is belangrik dat spelers dit van kleintyd af geleer word,” sê hy.
Hy erken egter dat daar soms bietjie meer druk op ‘n skool se eerstespan is om te wen.
“Almal hou daarvan om te wen, daar is verseker druk, maar mens ervaar dit op ‘n positiewe wyse. Solank die kern van alles gaan oor wat die beste is vir die kinders,” sê hy. Volgens hom is vanjaar ’n groot jaar vir Emmies, omdat hulle na rukkie weer in die groot laerskole-liga meeding. “Ons het om ’n tafel gesit en besluit ons gaan dinge anders aanpak. Gekyk waar ons buite hulp nodig het, en die regte mense ingebring. Natuurlik gaan alles nie binne een seisoen verander nie, maar ons is op ‘n goeie plek met baie sterk, jong en dinamiese afrigters by die skool,” vertel Alwyn.
Volgens hom is spanwerk, vriende maak en ‘n positiewe ervaring die grootste doelwitte wat hy met sy span het.



