
Die NWU Varsity Netbalspan is vanjaar slaggereed om kwaliteit netball te speel en ver in hierdie jaar se Varsity Netbalkompetisie te gaan.
Varsity Netbal begin alreeds op Saterdag, 17 September vir die NWU met ‘n eerste rondte wedstryd teen UJ by die Rembrandt-saal by Tukkies.
Die goeie nuus vir die NWU is dat hulle ook vanjaar vir die eerste keer in 7 jaar tuiswedstryde tydens die Varsity Netbaltoernooi sal hê.
Die NWU sal twee wedstryde op die amfiteater se netbalbaan teen TUT en Maties speel. Hierdie wedstryde sal op 25-26 September plaasvind.
NWU hoofafrigter, Elsunet du Plessis vertel haar span is opgewonde om voor hulle tuisskare te speel.
“Dit is definitief goeie motivering om ons beste netbal te speel. Dit is ‘n fantastiese groep spelers met baie talent. Eks baie opgewonde om te sien wat hulle gaan lewer. Ons doelwit is om elke wedstryd as ‘n span te speel en om ‘n posisie in die semi finaal te behaal. En dan begin die kompetisie weer van voor af,” meen Du Plessis.
Hierdie groep spelers het beslis baie talent en sluit in Proteas doelskieter, Elmeré van der Berg, Sunel Smit, wat as onlangs as die top speler van die SA o.19 kampioenskappe aangewys is. Die talentvolle Lucy Strydom sal as hulpdoel ook ‘n groot rol speel. In die verdediging is Favour Umeh, Nicolene van Heerden en Martiné Jordaan staatmakers wat enige aanval op hulled ag kan stuit.
In die middel van die baan sal Caitlin du Plessis, Michelle Geduld en Tlotlang Mokomela ook ‘n groot rol speel om die vloei van die wedstryd te beheer.
Die NWU se beste uitslae was in 2015 en 2016 toe hulle in agtereenvolgende jare die Varsity Netbal-titel verower het. Dorette Badenhorst, huidige SA Protea-afrigter, was toe die hoofafrigter by die NWU.
Die NWU sal graag weer die beker wil lig, maar vir eers is die doelwit om die semi-finaal te behaal. Dan is dit twee goeie wedstryd weg van ‘n bekersege.
NWU Varsity Netbalspan:
Elmeré van der Berg, Sunel Smit, Lucy Strydom, Caitlin du Plessis, Ilke van der Linde, Tlotlang Mokomela, Michelle Geduld, Jomari Lubbe, Keke Molotsi, Favour Umeh , Nicolene van Heerden, Sanmarie Visser, Martiné Jordaan, Chelize Swart, Kega Mashilo.

2022 Bepalings
Saterdag, 17 September – NWU vs UJ (13:00) – Tukkies
Sondag,18 September – NWU vs UWC (13:00) – Tukkies
Maandag, 19 September – NWU vs Madibaz (15:00) – Tukkies
Sondag, 25 September – NWU vs TUT (17:00) – NWU
Maandag, 26 September – NWU vs Maties (19:00) – NWU
Sondag, 2 Oktober – NWU vs Tuks (15:00) – Kovsies
Maandag, 3 Oktober – NWU vs Kovsies (19:00) – Kovsies