Na 810 wedstryde as skeidsregter in alle formate het Noordwes Krieketskeidsregter, Drikus Viljoen (43), in sy eerste eersterangse krieketwedstryd gestaan toe hy as skeidsregter vir die T20 wedstryd tussen die NW Dragons en Eastern Storm op Vrydag, 9 September op Witrand opgetree het.
Vir hierdie Potchefstromer is dit tekenend van ‘n liefde vir die spel en ‘n voorbeeld van aanhouer wen. Viljoen se skeidsregtingloopbaan het alreeds in 1995 as 16-jarige skoolseun van Rustenburg begin en nou in 2022 kan hy op professionele vlak sy vinger lig.

“Ek het baie goeie terugvoer van die Dragons spelers op die dag gekry en dit het dit nog meer spesiaal gemaak. Die spelers op professionele vlak is regtig blitsvinnig en weet wat hulle doen. Met die eerste bal het Heino Kuhn, die bal gekeer in die veld en in een beweging die paaltjies omgegooi. Ek het toe geweet dat ek nou in ‘n groter liga is,” vertel Viljoen oor sy eersterangse debuut.
Meeste mense sal wonder wat dit verg om ‘n skeidsregter te wees wat nou al in verskeie krieketera’s en vlakke op die veld geloop het en talle kolwers die trekpas gegee het.
“Dit is proses om na baie goed op die veld te kyk voordat die wedstryd gebeur. Ek en my mede skeidsregter sal na die toestand van die veld en kolfblad kyk, sowel as die breedte van die kolfkampie,” vertel Viljoen.
Die korrekte kriekettoerusting is ook belangrik wat ‘n sonhoed, clicker (om balle te tel), naelknipper en ‘n hak insluit om ‘n bouler se hoed vas te knyp in die boulbeurt.
“Tyd is baie belangrik en my werk as skeidsregter is om seker te maak dat die kaptein presies weet hoeveel tyd daar in die beurt is om al die boulbeurte betyds te boul – anders is daar strawwe vir stadige tempo,” noem Viljoen.
Hy noem ook dat hy en sy mede skeidsregter verskeie handetekens het om met mekaar oor en weer te kommunikeer oor die hoeveelheid balle wat oor is in die beurt, onder andere besonderhede.
“Kommunikasie is baie belangrik. ‘n Mens moet heeltyd konsentreer en elke bal opnuut fokus. ‘n Mens kan nie fokus op iets wat in die verlede gebeur het nie,” meen Viljoen.
Hierdie skeidsregter het by die Potchefstroom Onderwys Kollege (POK) studeer en vir vyf jaar ook vanaf 1998-2002 krieket vir SA Kolleges gespeel.
Volgens hom het krieket baie verander deur die jare veral rakende die improvisering van die kolwers om lopies te kan maak.
“Kolwers kan deesdae enige hou speel en die veld manipuleer. Dit maak dit moeilik vir boulers en die kaptein om ‘n veld te stel. Kolwers is ook baie meer aggressief as voorheen.”
Viljoen is ook van die opinie dat respek van die begin af verkry word en dat die skeidsregter die spel moet beheer veral wanneer emoises hoog raak.
“Jou kennis van die spel tel baie sowel as jou ervaring op die veld en vertroue wat jy het by die spelers. As skeidsregter weet ek ook wat die verskil in klank tussen die beenskut en die kolf is. Ek as skeidsregter kan foute maak, maar ek vertrou my intuisie. Jy moet selfversekerd wees op die veld,” meen hy.
Viljoen kyk op na verskeie krieketskeidsregter soos Dave Orchard, Johan Cloete sowel as Marais Erasmus.
“Ek het baie by Johan Cloete geleer toe ek saam met hom geskeidsreg het. Internasionaal dink ek dat Aleem Dar een van die bestes is. Hy lyk altyd baie rustig en weet wat hy doen.”

Viljoen beaam dat hy nie sommer kan stilsit nie aangesien hy uit ‘n baie sportiewe familie kom. Sy suster, Sunette, is die bekende SA Olimpiese silwermedalje wenner in spiesgooi.
“My ma (Sunette) en pa (Daan) was nog altyd daar om my te motiveer. Ons almal is baie sportief,” vertel hy. Viljoen bedank ook sy gesin vir hulle getroue ondersteuning. Sy vrou, Noëlene, en twee kinders Tinike (15) en Johenku (10) is sy hart se punt.
In sy vrye tyd geniet hierdie skeidsregter, voormalige onderwyser en klubrugbyspeler, ‘n bier saam met ‘n lekker rump biefstuk op die kole.
“Medium to rare asseblief,” vertel hy met ‘n groot glimlag.
Hy was ook al verkeie kere op die televisie (in realiteitsreekse sowel as klein rolle in sepies) – wie weet dalk is dit volgende keer as krieketskeidsregter.
“My volgende doelwitte is om soveel as moontlik wedstryde te skeidsreg en geleenthede te gebruik hier in Potchefstroom. Hier is altyd baie toernooie en spanne wat kom speel en dat sal ‘n voorreg wees om nog saam top spelers op die veld te stap.”




