Die opwinding is groot vir die komende Varsity Netbaleindstryd tussen die Noordwes-Universiteit (NWU) en Maties Maandag, 17 Oktober in Stellenbosch.
Kaartjies is binne ‘n paar uur soos soetkoek uitverkoop, met netballiefhebbers wat nie vir hierdie kragmeting kan wag nie.
Maties is nog onoorwonne in vanjaar se toernooi en sal die gunsteling op hulle tuisbaan by Coetzenburg wees. Sian Moore, Nichole Taljaard en Nicola Smith is vanjaar Maties se top spelers en hulle vorm sal ‘n groot rol in Maandag se eindstryd speel. Maties het vir UJ met 45-38 in hulle half-eindstryd geklop.
Foto’s: Hannes Naude/ASEM Engage
Die NWU het ‘n taaier roete gevolg en moes in Bloemfontein in ‘n senutergende halfeindstryd terugveg om met 64-61 vir Kovsies te klop en die eindstryd te haal.
Die NWU speel vanjaar ook fantastiese netbal en sal hulle alles op die dag gee – inteendeel, hulle het niks om te verloor met al die druk wat op Maties sal wees om hulle eerste netbaltitel te verower.
Die NWU se sterre vanjaar is ongetwyfeld die Protea doel, Elmere van der Berg, Sunel Smit (doel) sowel as Keke Molotsi (verdedigende vleuel) en die verdedigers, Nicolene van Heerden en Martine Jordaan. Wat die NWU wel ‘n puik eenheid maak, is dat hulle as een span saamspeel en nie op een speler fokus om dinge te laat gebeur nie – almal ken hulle rolle en weet hoe om NWU afrigter, Elsunet du Plessis se wedstrydplan uit te voer.

Du Plessis, was oorstelp van vreugde na die oorwinning, maar is gefokus op die finaal wat nou voorlê.
“Die span is baie opgewonde en sien uit om weer as ‘n span te speel. Daar is ‘n paar aspekte van ons spel wat ons wil verfyn by die aanval sowel as verdediging.”








