SportSport

NWU stapper breek rekord by Tembisa Myl

Swanepoel stel ook ‘n nuwe Tembisa Myl rekord op met ‘n tyd van 7 minute en 8 sekondes en dit in haar eerste mylwedloop.

Die Noordwes Universiteit se goue stappers, Marissa Swanepoel en Antonio Farmer, het weer hulle aptyt vir sukses getoon toe hulle op Saterdag, 29 Oktober as onderskeidelik mans en dames stapwenners van die Tembisa Myl gekroon is.

Swanepoel stel ook ‘n nuwe Tembisa Myl rekord op met ‘n tyd van 7 minute en 8 sekondes en dit in haar eerste mylwedloop.

“Dit is altyd ‘n baie lekker gevoel om te wen, so ek het al begin glimlag toe ek die banier begin sien waardeur ek moet gaan. My bene het heeltemal ingegee toe ek klaarmaak so ek weet ek het regtig my alles gegee,” noem Marissa.

Marissa Swanepoel tref die wenstreep met ‘n groot glimlag tydens die 2022 Tembisa Myl. Foto: Verskaf

“Dit was my heel eerste myl so ek het geen groot verwagtinge gehad vir tyd nie. Ek het net geweet dat ek van die begin af voluit moet gaan en net deur druk omdat die afstand baie korter is as waaraan ek gewoond is,” sê Marissa.

Sy noem ook dat sy eerste ‘n paar minute voor die wedloop daaraan gedink het dat sy moontlik die rekord kan breek.

“My afrigter (Carl Meyer) het toe vir my gesê dat dit moontlik gaan wees om die rekord te breek en my aangespoor. Ek het toe besluit ek gaan probeer om die rekord te breek, wat ek toe reggekry het.”

Marissa noem dat sy volgende jaar in haar eerste jaar as senior ‘n nuwe afstand van 20km aanpak wat ‘n goeie uitdaging gaan wees.

“Om ‘n 20km goed te doen kort ons baie ervaring. Ek wil volgende jaar so veel as moontlik ervaring opbou in my 20km om my tyd te verbeter.”

Carl Meyer (tweede van links) en sy puik stappers, Antonio Farmer, Annette Koen en Marissa Swanepoel.

Hierdie atlete se afrigter, Carl Meyer, is in sy noppies met sy atlete se prestasies.

“Marissa het uitsonderlike goed presteer. Ek is in ekstase oor haar prestasie. Sy skuif nou van 10km na 20km stap in die senior kategorie vanjaar en haar oorwinning in die myl gee ‘n goeie indikasie dat die werk wat ons in die winter ingesit het, goeie resultate lewer. Dit lyk baie belowend vir die 2023 seisoen,” meen Meyer.

Hy lê ook klem op die prestasies van Farmer, wat goud verower het en Koen, wat na ‘n knieoperasie, met brons haar staal gewys het.

“Antonio is ‘n gesoute senior atleet en sy wen is ‘n bewys dat hy in goeie vorm is. Ek is baie opgewonde oor wat die komende seisoen vir hom gaan inhou. Annette se bronsmedalje wys ook dat sy besig is om deur die effekte van haar operasie te werk en weer op vorm te kom,” sê Meyer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button