SportSport

Video: Jong renjaer (11) laat wiel op die ovaalbaan

Marco, ‘n graad-5 leerder in Laerskool M.L. Fick, is ‘n uitblinker in die Junior Stockrod Klubkampioenskappe in sy Volkswagen Golf Caddy.

Op die resiesbaan is die jong renjaer, Marco van den Berg (11) in sy element waar hy vanjaar reeds talle oorwinnings en die algehele titel in die Junior Stockrod Klubkampioenskappe in sy Volkswagen Golf Caddy behaal het.

Kyk die video hier. 

Marco, ‘n graad-5 leerder in Laerskool M.L. Fick, is ‘n uitblinker in die Klerksdorp Star Raceway se junior afdeling waaraan kinders van 10-16 jaar oud deelneem. Renjaers ry 12 rondtes met drie resies per byeenkoms.

Marco van den Berg vat die voortou in sy Volkswagen Golf Caddy. Foto: Riaan Roux.

Daar was vanjaar ‘n totaal van nege byeenkomste waarvan Marco ses van hulle gewen het. Marco het in September 2021 besluit dat hy aan motorsport wil deelneem, aangesien sy pa Johan al vir 30 jaar in motorsport betrokke is. Johan vertel dat hy toe die VW Golf Caddy bakkie vir sy seun opgebou het om aan hierdie kompetisie vanjaar deel te neem.

Marco van den Berg (11) is ‘n talentvolle jong renjaer. Foto: Wouter Pienaar

“Marco het aan sy eerste wedren op 28 Februarie deelgeneem en altesaam aan 27 wedrenne by 9 byeenkomste agter die wiel gesit. Hy was die wenners by ses van hierdie byeenkomste,” noem Johan met ‘n glimlag.

Daar is ook sekere beperkinge ten opsigte van enjinkrag van die kar wat Marco ry (beperk tot 1600) en kan nie modifikasies insluit nie. Die voertuig mag ook nie swaarder as 800kg wees met Marco in die kar nie. Om ‘n suksesvolle renjaer in oval-wedrenne te wees, moet Marco presies weet hoe om gapings raak te sien en ook vining te kan reageer.

“Ek geniet dit baie om deel te neem. Dit is die beste van die beste gevoel om te kan wen ook,” noem Marco trots.

Marco se ma, Lizelle, noem dat dit effens senuweeagtig raak om vir Marco te kyk as hy teen 80 kilometer per uur en meer om die ovaalbaan jaag, maar noem dat sy steeds baie trots op hom is.

“As Marco eers voor is dan maak hy seker dat hy die gapings op die baan toe maak en nie vir ander kans gee om weer verby te kom nie.”

Die toekoms is blink vir hierdie belowende renjaer wat wys dat daar nie ‘n ouderdomsbeperking op talent geplaas kan word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button